Verlede maand
Gyseldrama by winkel
HOP-HOP: Die verdagte is in die been gewond en sy makkers het sonder hom gevlug.  ~ Jonathan Lestrade

DANKSY die flinke optrede van die polisie is ’n hele winkel gister­oggend van ’n dodelike hostage-tragedie gered.

Dié drama, wat hom by die Food Lover’s Market in Kuilsrivier afgespeel het, het talle werkers getraumatiseer gelaat.

’n Werknemer verduidelik gister aan Son hulle was nog besig om reg te maak vir die dag toe vyf gewapende rowers by die winkel inloop.

Die vroue wat by die kasregisters gewerk het, is gedreig en die verdagtes het geld geëis.

“Hulle het toe die geld gevat terwyl die res van ons werkers en customers op die vloer gelê het.”

Beveel

Nog ’n ooggetuie wat buite die winkel was, sê toe die rowers uit die winkel kom, was daar ’n couple buite wat net daar gestop het.

“Die vrou was besig om haar kardeur te sluit toe een van die rowers haar sleutel gryp en in die kar spring.

“Dis toe dat die polisie-vên opdaag en die rowers beveel om te stop.”

Die skelms het toe al aangery terwyl hul makker agter hulle aangehardloop het. Die ooggetuie voeg by dat die een rower toe sy wapen op die polisiebeamptes gerig het.

Daar het toe ’n oor-en-weer-skietery tussen die cops en die verdagtes uitgebreek.

Die 25 oranje kegels wat gister op die toneel gestaan het tydens die cops se ondersoek, het aangedui waar die koeëldoppies gelê het. ’n Ingeligte bron vertel een van die verdagtes is op die toneel gevang omdat sy koeëls opgeraak en sy makkers nie vir hom gewag het nie.

“Hy’t nog geskreeu dat hulle moet wag, maar hy is in die been geskiet en kon nie betyds by die wegkomvoertuig uitkom nie en polisieversterkings was toe reeds op pad.

“Dis hoe hy gevang en sy gun ook gekry is.”

Die bron sê die kar is later verlate in Mfuleni gevind en die kontant en verdagtes is steeds soek. Berading is ook onmiddellik aan die werkers verskaf wat betrokke was by die drama.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n 33-jarige verdagte is aangekeer en wag nou vir sy hofdatum.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters