Verlede maand
Gru-vonds van drie dooies skok
KRAP KOP: Die polisie weet nog nie wie die drie mense is wat doodgeskiet is nie.  ~ Jaco Marais / Netwerk24

DIE gemeenskap van Sarepta­ in Kuilsrivier is vroegoggend met drie lyke­ begroet.

Gemeenskapslede het op die lyke van twee vroue en ’n man afgekom.

Mense wat verby die kanaal in Northstraat geloop het, het gister­oggend dié gru-ontdekking gedoen.

Al drie slagoffers se oorskot was vol lood gepomp. Vars bloed op die toneel dui aan die drie is moontlik op die toneel doodgeskiet.

Die polisie het ook koeëldoppies op die toneel gevind en ’n inwoner het aan Son gesê haar neighbours het verskeie skote hoor afgaan.

Ondersoekbeamptes wat by die Kuilsrivier-polisiestasie gestasioneer is, krap nou behoorlik kop oor wie die slag­offers kan wees en wie hulle vermoor het.

geskok: Die gemeenskap van Kuilsrivier het by die kanaal saamgedrom toe die gru-vonds gedoen is. Foto’s: netwerk24

Brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, bevestig die polisie ondersoek ’n driedubbele moordsaak nadat drie liggame gisteroggend in ’n kanaal gevind is.

Volgens Potelwa het misdaaddeskundiges gisteroggend die misdaadtoneel vir leidrade gefynkam.

Sy verduidelik: “Die aanvanklike verslag van die toneel dui aan die polisie is omstreeks 06:00 uitgeroep nadat mense wat verbygeloop het die lyke van twee vroue en ’n man met skietwonde in die water gesien het.

“Verskeie koeëldoppies is in die omgewing gevind. Polisieduikers het gereageer en die lyke uit die water gehaal.”

Volgens Potelwa het die polisie­ ’n 72-uur-aksieplan geaktiveer om hulpbronne te mobiliseer in die soektog na die verdagtes en om vas te stel wat die motief vir die moorde is.

Sy voeg by die identiteit van die drie slagoffers is in hierdie stadium van die ondersoek nog onbekend.

Potelwa vra dat enige iemand­ wat met die ondersoek kan help die polisie by 08600 10111 sal bel.

gru-vonds: Dié drie lyke van twee vrouens en ’n man is deur polisieduikers uit die water gehaal nadat hulle doodgeskiet is.

Vertroulik

Sy sê enige inligting kan ook via die My SAPS-app gestuur word. Potelwa belowe alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Die gemeenskap van Kalkfontein en Sarepta is gister ná die ontdekking van die lyke na ’n gemeenskapsvergadering uitgenooi.

Sers. Tshepang Hoffman, ’n sektorbevelvoerder in Kuils­rivier, het die uitnodiging na vanaand se vergadering op die Kuils River Civic­ Facebook-groep geplaas.

Volgens Hoffman sal dit ’n opelugvergadering wees wat 18:00 op die vlakkie oorkant die Family Store­ gehou sal word.

Sy inskrywing lees: “Die gemeenskapspolisiëringsforum en die polisie sal teenwoordig wees om die huidige situasie te bespreek van moorde in die gemeenskap.

“Stuur asseblief hierdie boodskap aan almal wat in Kalkfontein en Sarepta bly. Almal se teenwoordigheid sal hoog op prys gestel word.”

Koelbloedig: Dié vars bloed wat op die toneel gevind is, is die enige stille getuienis van die nare dood wat die drie gesterf het.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters