Gister
Groentetuine help behoeftiges
SO LEER HULLE: Dié kinders is by ’n gemeenskapstuin in Bonteheuwel besig om groentesaailinge te plant.  ~ Foto Verskaf

DIT is tuine wat die honger by die voordeur kan wegjaag.

Verskeie gemeenskappe het hul eie groentetuine begin om behoeftiges in hul gemeenskappe te help voed.

Gemeenskapstuine is daar om die hongersnood in die behoeftige gemeenskappe te verlig.

Bonteheuwel en Delft is van die vele gemeenskappe wat tans hul eie gemeenskapstuine begin het.

Volgens Henriette Abrahams, van die Bonteheuwel Development Forum se Food Security-program, is hul groentetuine meestal by skole en by inwoners se huise.

Abrahams sê: “Die tuine by die inwoners se huise waar groente geplant word, help om die voedingskemas in die gemeenskap aan die gang te hou.

“Ons het ook ’n kwekery op die been gekry waar groentesade vir die groentetuine geplant word.

“Ons het ook vandag (gister) verskillende soorte vrugtebome by verskeie van ons tuine by die skole in die area geplant. Die doel van die groentetuine is om hongersnood in ons gemeenskap te help verlig.”

Volgens Abrahams werk hulle baie met jong mense en so leer hulle dan die liefde aan om tuin te maak.

Sover het hulle al wortels, beet, groenboontjies, uie, tamaties, raap, blomkool, kool en ander groente in hul tuine geplant.

Fondse

In Delft het die groep Women Impacting the Nation ook in Augustus ’n gemeenskapsgroentetuin begin.

Volgens Farida Ryklief het hulle by een van hul vrouewerksessies oor geslagsgeweld met die idee van ’n gemeenskapsgroentetuin opgekom.

Ryklief sê: “Ons het fondse bekom vir die groentetuin en is al ses weke daarmee besig.

“Die doel van die gemeenskapsgroentetuin is om die groente vir ons voedingskemas in die area te gebruik en die gemeenskap te help.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters