9 maande gelede
Green lig vir Dr. Tamaryn
so trots: Ma Ellirene en pa David Green plant souentjies op hulle slim kind Tamaryn se wange. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

NOEM haar dokter Green.

Sy is nie net die land se mooiste nie, sy het bewys sy het boonop breins by die skoonheid.

Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018, is ’n lewende bewys dat niks onmoontlik is nie, solank jy net in jouself glo.

Die pragtige 25-jarige van die Paarl het Maandag gehoor haar jare van swot het vrugte afgewerp.

Sy het ál haar vakke geslaag en nou is sy ’n volwaardige mediese dokter.

Tamaryn was op die lughawe toe sy die goeie nuus ontvang het, vertel Tamaryn se derra, David Green, baie opgewonde.

“Ek is so dankbaar en verskriklik trots op my kind. ’n Dokter wou sy wees en ’n dokter is sy.”

David vertel oor hoe Tamaryn dit nie altyd maklik gehad het nie.

Hy vertel van ’n tyd toe Tamaryn teen TB geveg het en hoe dit amper haar studie ontspoor het.

“Dit was in 2015 toe sy in haar derde jaar was.

“Sy is gevra om haar studie net vir daai tyd te stop, maar sy wou nie. Sy het ’n plan vir haar lewe gehad en het baie opofferings gemaak.”

David sê sy hart glimlag nou, maar hy onthou ook hoe bang hy was.

“Ek onthou toe ek so bang was toe sy my vertel van haar calling om aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie deel te neem.

“Ek wou net hê sy moet haar studie klaarmaak, want wat as die wêreld haar insluk?

“Maar sy het my verkeerd bewys. Dis nou een ding van Tammy. As sy haar hart en mind op iets sit, dan dóén sy dit.”

Die pa sê hy sien nou hoe die twee hand aan hand saamwerk.

“Nooit, nie één keer, het sy gekla nie. Sy het haar kroon met liefde gedra en haar studie met passie klaargemaak. Nou sien ons uit na die graduation.”

Tamaryn se niggie Bonny-Sue Matthee, wat baie na aan haar is, sê Tamaryn is baie bly dat haar harde werk met goeie resultate beloon is.

Hospitaal

“Sy het alles ingesit sodat sy mense kan help.

“Volgende jaar gaan sy by ’n hospitaal in Johannesburg werk.”

Tamaryn is tans juis in Jozi met vergaderings besig en kon nie teen druktyd bereik word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters