Verlede maand
Gr.12’s, onnie laat nie slap lê
VOLHARD: Daar is sommer by die skool kooi gemaak en geslaap sodat leerders kan swot.  ~ Foto Verskaf

’N NOORD-KAAPSE onnie se werk gaan nie ongemerk verby nie.

Margareth Cloete (59) het verlede jaar haar tyd opgeoffer om saam met die matrieks by die skool te slaap tydens die eksamen. Cloete, wat 34 jaar al ’n onnie by die Hoërskool S.A. van Wyk in Bergsig, Springbok, is, het die vrugte van haar opoffering gepluk.

Sy is die lid van die span wat gehelp het om die skool se matriekuitslae uit die rooi te haal.

Die skool se matriekslaagsyfer het vanaf 59% in 2018 tot 80,55% in 2019 geskuif.

Cloete sê met ontsteltenis die skool was die afgelope vier jaar in die rooi.

Die toegewyde onnie het tydens die eksamen besluit om saam met leerders wat in moeilike omstandighede leef, by die skool te slaap sodat hulle kan leer.

Sy het matrasse gekry en kos aan die leerders verskaf.

“Dit is beslis ’n wen­resep,” meen Cloete.

Die idee het egter al Junie-maand kopgevat toe Cloete agtergekom het die leerders vaar nie so goed in hulle skoolwerk nie.

“Baie het gesê dis oor hulle nie genoeg plek en privaatheid in die huis het nie,” vertel Cloete.

Cloete het die skoolhoof genader en almal het gedink dis ’n goeie idee.

Dinge het goed verloop en al die oorslapers het toe op die ou einde geslaag.

Volgens Cloete kon jy die verskil sien.

“Tydens die September-eksamen het niemand by die skool geslaap nie en die uitslae was swakker met 15 leerders wat gedruip het.”

Dis toe dat sy besluit om gedurende die November-eindeksamen weer by die skool te slaap. Nie al die leerders het ingestem nie.

Cloete het saam met 22 van die 36 leerders by die skool geslaap. Al 22 daardie matrieks het deurgekom.

Cloete vertel toe die uitslae verlede week kom, het sy net gehuil.

“Ek het met die uitslae besef ek moet dit weer doen,” sê sy.

Dankbaar

“Ek wil leerders motiveer om bo hulle omstandighede uit te styg”.

Cloete is ook dankbaar vir Springbok Super­Spar wat haar gehelp het met maaltye vir die leerders in die eksamentyd. Cloete sê dit was ’n leerskool en hulle gaan dit definitief dié jaar weer doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters