11 dae gelede
GPF’s eis optrede teen misdaad
Vermy beraad: Die Mitchells Plain GPF cluster vergader die naweek met die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz (links voor), en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde (regs agter), oor bendegeweld.FOTO VERSKAF  ~ 

BOIKOTTE bedreig die beraad teen misdaad wat môre in die Paarl in die Wes-Kaap begin.

Dis gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) in die provinsie wat dreig met boikotte. Hulle dreig ook om vandag buite die parlement te betoog wanneer die polisieminister, Bheki Cele, sy begrotingsrede in die Nasionale Vergadering lewer.

Die beraad word die naweek by die polisie-akademie gehou. Die GPF’s is ontevrede oor die hoë misdaadsyfer in die Wes-Kaap.

Hulle sê die polisie ignoreer bloot hulle klagtes oor toestande in hulle woongebiede.

Die GPF’s het die naweek vergader om die hoë vlakke van veral ernstige misdade in die Wes-Kaap te bespreek.

Hulle meen die situasie is buite beheer. Hulle het toe ’n lys griewe aan Cele gestuur.

Die GPF’s beoog om ook ’n memorandum met hulle griewe aan Cele te oorhandig.

Griewe

Die voorsitter van die Lentegeur-GPF, Byron de Villiers, sê hulle sal nie aan die beraad deelneem nie.

“Ons het as ’n cluster besluit om die beraad nie by te woon nie. Dis oor die minister nie na ons griewe luister nie.

“Ons soek eers stabiliteit in die bendegeteisterde gebiede.

“Die provinsiale raad van die GPF’s het besluit dat ons die beraad teen misdaad moet boikot.”

Farida Ryklief van die Delft-polisiëringsgroep se GPF sê: “Die polisie verwag ons moet met hulle saamwerk, maar hulle werk nie saam met ons gemeenskappe nie.”

Die provinsiale raad van GPF’s sê hy kan die beraad nie ondersteun as dit nie gegrond is op die behoeftes van Wes-Kapenaars nie.

’n Lid wat anoniem wil bly sê: “Die tyd vir praat is verby; dis tyd vir aksie. Daar kan weer gepraat word as koeëls ophou vlieg op die Vlakte.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters