Verlede maand
Good bye Lastig
bêre strydbyle: Past. Elton Martins smeek gister op die diens vir vrede en liefde onder die bendes en die families. Foto’s: peter abrahams  ~ 

HAWSTON. – ’n Gedenkdiens is gistermiddag vir Ernie “Lastig” Solomon gehou.

Die omstrede maar geliefde inwoner van dié vissersdorp is op Vrydag 20 November in ’n huurmoordaanval in Boksburg aan die Gautengse Oos-Rand doodgeskiet.

Daar was drie ander mense in die motor: sy dogter, dié se sewe­jarige kind en ’n man.

Solomon se dogter is ook raak geskiet. Sy is steeds in ’n ernstig toestand in die hospitaal.

Brandon Damonse was ook in die motor.

Hy is ook getref en het ’n paar dae later in die hospitaal afgesterf.

Familie en vriende van Solomon het gister by die Shekinah Ministry Church vir hom ’n gedenkdiens gehou.

Veral Solomon se seun Carlo Solomon was baie hartseer. Van tyd tot tyd kon hy nie sy trane keer nie.

Van die Khoisan-stamhoofde het ook die gedenkdiens bygewoon.

Solomon se tweede oudste dogter, Audrey Fiver, het vertel hoe moeilik dit was om as Ernie Lastig se dogter groot te word.

Sy het gesê: “Ek is baie bly dat ek deur my pa grootgemaak is. Hy het ons geleer om op ons eie bene te staan en ek is trots op my pa.

“Die laaste keer toe daar op hom geskiet is, het hy besluit om uit Hawston uit te trek om ons te beskerm en veilig te hou.

“Die laaste paar maande sonder hom was moeilik.”

Volgens Jessie Pretorius, Solomon se suster, het almal foute, maar haar boeta Ernie het sy lewe verander.

Pretorius het gesê: “Ons het nie ’n goeie verhouding gehad nie, maar ek was lief vir hom.

Vergeet

“Die laaste twee maande het hy probeer om ons verhouding te herstel en my om vergifnis gevra. Dit is baie seer, want daar was geen tyd om afskeid te neem nie.”

Louise Guther beskou Lastig as ’n ware vriend wat sy lewe verander het. Guther het gesê: “Die mense onthou altyd jou foute en vergeet van jou goeie dae. Maak nie saak of jy jou lewe het nie. Niemand is sonder sonde nie.

“Ek ken hom jare. Daar was ’n tyd so 30 jaar terug dat hy op vlug was. Ek het vir hom kos geneem in die bos waar hy geskuil het.”

Guther het Lastig se familie en kinders bemoedig om nie swak te raak nie, maar om aan te gaan.

Mark Arendse van die Erfeniskomitee het Solomon erkenning gegee vir die goeie werk wat hy vir Hawston gedoen het.

Solomon was voorsitter van die Erfeniskomitee. Hy het hoekstene laat opsit vir vissermanne wat hul lewe in die see verloor het.

Lastig was vroeër die baas van die 28’s-bende. Voordat hy sy lewe omgedraai het, is hy gereeld by perlemoensmokkelary betrek.

In Mei het iemand hom ook probeer doodmaak.

Niemand is nog vir die moord gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters