25 dae gelede
G’n einde aan smarte
GEDULD: Mathilda Matthews (links) sê sy’t ’n stoel gebring oor sy weet dis ’n lang wag.  ~ Peter Abrahams

DIT blyk dat Sassa-rye net langer en langer word, en dinge val meer en meer uitmekaar.

In die verlede het Kaapse inwoners wat by Sassa se kantore in Bellville grant gaan haal het, al vroeg in die oggende in rye begin wag.

Son het destyds ook vroeg opgestaan om met die mense te gaan praat.

Nou gaan mense al ’n dag voor die tyd en wag regdeur die nag om gehelp te word!

Son het Maandagaand om 22:30 na die Sassa-kantore gegaan om te kyk wat daar aangaan.

In die hartjie van die koue herfsnag was daar reeds 130 mense wat moes wag tot die volgende oggend om gehelp te word.

Nazeem Koetenburg (56) van Bishop Lavis is een van die mense wat gewag het.

“Ek en my vrou het albei ons papiere gebring om aansoek te doen vir grants. Maar daar is steeds geen waarborg dat ’n mens gehelp gaan word nie,” sê hy half moedeloos.

Mathilda Matthews (54) van Bishop Lavis en Gaironessa Salie (57) van Valhalla Park is maar twee van die ander mense wat ook daar gewag het.

Hulle word bygestaan deur Daphne Peters van Bellville-Suid.

Peters wil weet hoekom Sassa nie kantore in plekke soos Elsiesrivier en Delft kan oopmaak nie.

“Mense moet taxi’s na Bellville vat en die hele nag wag. Ou mense moet nou ’n nag in die koue trotseer.

“Die ander probleem is toiletgeriewe. Mense moet by ’n garage hier naby gaan betaal om die geriewe te gebruik.

“Ons het dringend toiletgeriewe nodig hier.”

Yusuf Samodien van Delft sê gelukkig los die polisie hulle, al mag mense weens die corona-virus-pandemie nie laatnag op straat wees nie.

“Dit is onmenslik wat hier gebeur. Baie mense moet op die koue sement slaap.

“Mense wag regdeur die nag om gehelp te word sonder enige waarborg en slegs in hoop.”

In die donker Sassa-tonnel is daar darem ’n klein ligstraal van hoop. Nie van Sassa se kant nie, maar mense met goeie harte wat uit hul pad gaan om ander te help.

Bernie Weber, voorsitter van die Salberau Residents Association Neighbourhood Watch in Elsiesrivier en haar span het gehoor mense wag regdeur die nag.

Hulle kom ál die pad van Elsies­rivier af na Bellville om te help.

Sy vertel: “Een van die mense wat ook al so in die ry gewag het, het ons daarvan vertel.

“Mense sit deur die nag en wag en het nie kos om te eet nie.”

Weber sê dit het haar gebreek. Hulle het dit bespreek en toe drie dae gelede begin om kos vir die mense te vat.

Leen

Sy sê: “Dis pateties. Dis pynlik om te sien hoe bejaardes daar moet lê en slaap, en wag tot die volgende oggend om gehelp te word.

“Die mense moet soms geld leen om by Sassa uit te kom om self geld te kry.”

Wat mens diep tref, is die gelatenheid van die desperate mense wat enige iets sal trotseer en vasklou aan ’n straaltjie hoop dat hulle gehelp sal word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters