Verlede maand
Gladdebek lek self geheim uit
Chris Lategan  ~ Foto Verskaf

DIT was ’n bittersoet oomblik vir die Hess­familie toe Jesse se vermeende moordenaar gister vasgetrek is.

Hulle wag al meer as twee maande.

Die saak het tot stilstand gekom nadat Jesse en haar oupa Chris Lategan vroeg in September in hulle flat in Parow vermoor is.

David van Boven, ’n neef, het ’n lat vir sy eie gat gepluk toe hy Maandagoggend na bewering ’n meisie (16) in haar huis in Hanover Park verkrag het.

Toe hy hoor die cops is op sy spoor, het hy na een van sy vele girlfriends gevlug. Dié een bly in Struisbaai.

Van Boven was nie eens bang om vir sy girlfriend saam met wie hy in Hanover Park gebly het, te sê waar hy is nie.

Dít is hoe die cops hom vasgetrek het.

Son het gister eksklusief oor die neef berig.

Volgens Sandy Hess, Jesse se antie, het Van Boven eers gesê hy is in Tulbagh, maar toe vind hulle uit hy is eintlik in Struisbaai.

’n Verligte Hess het aan Son gesê dit was vir hulle ’n terrible tyd terwyl Van Boven op vrye voet was.

Gedurende hierdie tyd het hy sy broer en pa getreiter, sê Hess.

Sy vertel: “Dit was so erg, ek kan dit nie eens in woorde beskryf nie.

“Wat dinge erger gemaak het, is dat ons geweet het dis hy, maar ons kon niks sê nie.

“Ná die voorval het ons getrek. Ons was so bang, ons het vir niemand gesê waarheen ons trek nie. Nie eens vir ons familie nie.

“Daar waar ons nou bly, is die sekuriteitskompleks veilig. Niemand kan net inkom nie.

“By die vorige flat waar ons gebly het, moes ek gedurig skel oor hulle nie die hekke gesluit hou nie.”

Hess sê sy wil baie graag weet wat iemand daartoe gedryf het om Jesse en haar (Hess se) stiefpa dood te maak.

Sy maak hom uit as ’n reeksverkragter en moordenaar.

Hess probeer eintlik net sin maak van alles: “Hoe kon hy dít wil doen?

“Ek was net goed vir hom. Ek was dan elke dag by hulle huis toe hulle ma siek was.

“Ek het my gebreek vir hulle.

“Dis nie asof ons kwaaivriende was dat hy só iets sou doen nie.”

Hess beskryf Van Boven as ’n wrede mens, want al die slagoffers is na aan hom.

Die meisie wat Maandag verkrag is, is familie van sy girlfriend saam met wie hy in Hanover Park gewoon het.

Verskyn

Van Boven was sewe jaar in die gevangenis vir die verkragting van sy neef se vrou. Hierop sê Hess: “Hy’s glad. Hy maak jou gerus en vang jou onkant.”

Van Boven sal na verwagting môre in die hof verskyn.

Jesse Hess

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters