2 maande gelede
Geweld ruk nou lelik handuit
BEKOMMERD: Roegshanda Pascoe sê dinge ruk handuit in hul gemeenskap.  ~ Jonathan Lestrade

DIE bloedige bende­geweld in Manenberg woed voort.

Nog vier mense is die naweek in afsonderlike skietvoorvalle hier afgemaai.

Sondagaand is twee mans noodlottig gewond.

Na verneem word het fake cops die mans, van onderskeidelik 21 en 24 jaar oud, voorgekeer en aangesê om plat op die grond te lê. Hulle is toe van agter af in die kop geskiet.

Die voorval het omstreeks 21:10 in die omgewing van Thames en Seine Walk gebeur.

Volgens Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het twee verdagtes in ’n grys motor die mans genader en hulle in die kop geskiet. Albei is op die toneel dood.

Roegshanda Pascoe, ’n gemeenskapsleier van Manenberg, sê: “Die bendegeweld gaan al ’n week aan. Menige onskuldige is raakgeskiet of dood. Manenberg is nou ’n red zone; die ambulans kan nie sonder die polisie se begeleiding inkom nie.

“Dit beteken nóg onskuldige mense of bejaardes wat siek is, kan sterf terwyl hulle vir ’n ambulans wag.

“Hier is geen polisie of metro cops wat die area patrolleer nie. Dit is duidelik die polisie het nie ’n veiligheidsplan vir Manenberg of die Kaapse Vlakte nie.”

  • Saterdag omstreeks 01:50 is ’n 25-jarige man in Pecos Way geskiet.

Hy is op die toneel dood.

Dié man is die derde persoon wat die afgelope week weens die bloedige geweld tussen die Hard Living- en Americans-bende doodgeskiet is.

  • ’n Verstandelik gestremde man (19) is laas Dinsdagoggend in sy slaap geskiet.

’n Dwaalkoeël wat deur hul wendyhuis se venster gegaan het, het hom getref. Hy’s op die toneel dood.

Volgens die polisiewoordvoerder kol. Andrè Traut word die motief vir die moord nog ondersoek.

Tot dusver is niemand al gearresteer nie.

  • In nog ’n bendeskietery Saterdagaand op die Kaapse Vlakte is ’n 17-jarige man afgemaai.

Die voorval het in Clarke Estate gebeur.

’n Somaliër is in Greenwood Avenue koelbloedig doodgeskiet.

Die voorval het omstreeks 20:20 gebeur. Die man is op die toneel dood.

Skollies

Na verneem word was die man saam met ’n Somaliese winkeleienaar toe hulle aangeval en beroof is.

Die winkeleienaar het ’n vriend by sy huis in Clarke Estate gaan aflaai.

Die skollies het die winkel-eienaar beroof van die sak geld wat hy by hom gehad het en in die rigting van Bishop Lavis gehardloop.

Die eienaar is in die rooftog gewond.

Volgens Imraan Mukadam, gemeenskapsleier in Elsiesrivier, is dit nou die tyd van die jaar dat rooftogte by besighede toeneem.

“Veral buitelandse winkeleienaars word gewaarsku om versigtig te wees, want dit is ’n maklike manier vir skollies om geld in die hande te kry.”

Niemand is nog gearresteer nie. Die cops het ’n moorddossier geopen.

  • In Kalkfontein is ’n 18-jarige seun doodgelem – na bewering deur sy girlfriend.

Hierdie voorval het Saterdagaand in Elizabethstraat gebeur.

Die laitie is op die toneel dood. Sy girlfriend is dieselfde aand gearresteer.

Volgens Traut sal die verdagte binnekort op ’n klag van moord in die landdroshof verskyn.

  • In Kraaifontein is ’n 29-jarige man die naweek in ’n bendeskietery afgemaai.

Die voorval het Saterdagmiddag in Thakudistraat gebeur.

Die cops stel nog die omstandighede rondom die moord vas. Tot dusver is niemand aangekeer nie. ’n Moorddossier is aangelê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters