Verlede maand
Geweld eis kid in eie kombuis
geskok: Jonathan Jonkers was in die huis toe sy suster doodgeskiet is.  ~ 

DIE een oomblik het sy skottelgoed gewas – die volgende is die huis vol gangsters wat haar doodskiet.

Jamie-Lee Jonkers (13) is gisteroggend in hul kombuis in Seawinds, langs Lavender Hill, doodgeskiet nadat ’n man by hul huis ingehardloop het toe gangsters op hom skiet.

Jonathan Jonkers, Jamie-Lee se broer, sê aan Son hy het pas by die huis aangekom toe die skietery uitbreek.

Hy sê sy sussie was al waaraan hy gedink het.

Jonathan vertel: “Ek het reguit kamer toe gegaan en iets het net vir my gesê ek moet daar bly.

“Skielik het ek skote gehoor.

“Ek was geskok en het in die kamer gebly.

“Iemand het toe die kamerdeur oopgestoot. Dit was ’n ander Rasta wat ek ken.

“Ek het hom gevra hoekom hy dan hier by ons huis inhardloop.

“Hy’t vir my gesê hulle wil hom doodskiet.

“Daar het toe nog ’n paar skote afgegaan en ek het my onder die bed weggesteek.

“Toe ek hoor dis stil en hulle hardloop weg, het ek uitgekom.

“Ek het net gedink of my suster nog orraait is.”

hartseer: John Jonkers se trane rol terwyl hy oor sy dogter se gewelddadige dood praat. Foto’s: Abrie Burger
Jamie-Lee JonkersFOTO verskaf
geskok: Jonathan Jonkers was in die huis toe sy suster doodgeskiet is.
tot siens: John Jonkers (links) kyk verslae toe hoe sy dogter se liggaam in die patoloë se lykswa gelaai word.Foto: Jonathan Lestrade

Jonkers sê toe hy in die kombuis kom, het hy sy suster op die grond gekry.

“Die bloed het by haar mond uitgekom.

“Ek het vir haar gesê sy moet sterk bly en ons nie verlaat nie.

“Sy het in my broer se arms gesterf.”

Jamie-Lee se pa, John, het aan Son gesê dis onregverdig dat sy dogter só moes sterf.

Hy was reeds by die werk toe hy die tyding kry.

John vertel: “Die werk het gesê iets het gebeur en ek moet huis toe gaan.

“Terwyl ek op pad huis toe was, het ek iemand langs die pad gekry wat my gesê het hulle het Jamie geskiet.

“Sy het dit nie verdien nie.

“Sy sou nog volgende jaar terug gaan skool toe.

“Sy het belowe dat sy eendag vir my ’n huis sal koop.”

’n Polisiewoordvoerder, sers Noloyiso Rwexana, het bevestig die polisie ondersoek ’n moordsaak.

Rwexana sê: “Die skietvoorval het omstreeks 09:25 gebeur.

“Die polisie is besig om die toneel te fynkam vir leidrade wat tot die arrestasie van die verdagtes kan lei.

“Mense met meer inligting oor die voorval kan die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel.”

Volg Bohemia Hoffmeester op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters