Verlede maand
Gevuur bring sy laaste uur
SLAGOFFER: Kyle Cloete (21) is Dinsdagaand in Elsiesrivier dood nadat ’n dwaalkoeël hom getref het.  ~ 

’N JONG man is dood nadat hy vroeg Dinsdagaand in Elsiesrivier in bendes se kruisvuur beland het.

Kyle Cloete (21) het saam met vriende buite sokker gespeel toe ’n dwaalkoeël hom in die bors tref.

Die voorval het omstreeks 18:15 in Adriaanse-laan, Clarke Estate, gebeur.

Cloete is op die toneel dood.

In dieselfde voorval is ’n 34-jarige gewond.

Hy is met ’n ambulans na die hospitaal geneem.

Sake van moord en poging tot moord is intussen geopen.

Vergader

Volgens sers. George Mjiwu, ’n woordvoerder van die polisie, is niemand nog vir die skietvoorval in hegtenis geneem nie.

Inwoners het Sondag in Leonsdale se gemeenskapsaal met die polisie vergader oor die bendegeweld in hulle gebied.

Volgens Gerrit Rass van die polisiëringsforum in Elsies­rivier was meer as 200 lede van die gemeenskap daar.

Rass sê: “Die wyk se raadslede was egter nie daar om na die gemeenskap se griewe te luister nie.

“Die mense se grootste bekommernis is die bendegeweld in die gebied.

“Hulle hoop dat die army ’n verskil sal maak – ás hulle in die gebied ontplooi gaan word.”

Volgens Rass kla die inwoners ook dat die cops nie reageer of uitkom wanneer hulle klagtes het nie.

Die inwoners is ook ontevrede omdat druglords glo in huise woon wat aan die Stad Kaapstad behoort.

Hulle wil hê die misdadigers moet uitgesit word.

Rass merk op: “Die gebied is nog baie gespanne.

“Daar kom nog sporadiese skietery voor.

“Dit sal goed wees as die polisie die hot spots meer gereeld patrolleer.

“Ons is veral bekommerd oor die jong kinders wat nie skoolgaan nie en op die straathoeke sit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters