11 dae gelede
Gevalle neem toe
STEEDS 'N REALITEIT: Mense word gewaarsku om steeds sosiale afstand te behou, veral noudat die Wes-Kaapse owerhede ’n tweede golf in die Suid-Kaap aangekondig het.  ~ Theo Jeptha

DIE Suid-Kaap raak ál vrotter van die Covid-19.

Die situasie word as ’n tweede golf van die pandemie bestempel.

Die Tuinroete-distrik het tans die meeste aktiewe Covid-19-gevalle per 100 000 gevalle in vergelyking met die res van die provinsie.

Die dik dinge wat verantwoordelik is vir die fight teen die corona-virus in die Wes-Kaap wil egter nie erken dat die Suid-Kaap nou die provinsie se episentrum is nie, omdat dit ’n “slegte konnotasie” het.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, die provinsiale gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, en die cluster-hoof van gesondheid vir die Tuinroete-distrik, dr. Terence Marshall, het inwoners gister in ’n digitale perskonferensie aangemoedig om steeds regulasies te eerbiedig.

Marshall het gister bekend gemaak dat daar nou 230 aktiewe Covid-19-gevalle per 100 000 inwoners in die Tuinroete-distrik is, in vergelyking met die provinsiale syfer van 65 per 100 000 inwoners.

Hy sê egter die distrik wil nie ’n episentrum genoem word nie.

Sterfgevalle

Volgens Marshall vind die grootste verspreiding by sosiale byeenkomste soos verjaarsdagpartytjies en sportklubs plaas waar mense laks word.

Hospitalisasies het in die laaste paar weke toegeneem tot die punt dat daar nou 159 Covid-19-pasiënte in die Suid-Kaap is, van wie 26 kritieke sorg vereis.

“Daar is ’n toename in hospitalisasie en nou ook ’n toename in sterfgevalle,” sê Marshall.

Daar is altesaam 752 corona-virus-pasiënte in hospitale in die provinsie, van wie 370 by openbare hospitale behandel word en 382 in privaat hospitale.

Die topvyf-gebiede wat infeksies betref, is George, Knysna, die Thembalethu-woonbuurt, Plettenbergbaai, Pacaltsdorp en Mosselbaai.

Cloete erken die Tuinroete-distrik ervaar tans ’n tweede vlaag van die corona-virus-pandemie. Ander gedeeltes van die Wes-Kaap moet dus ook nie relax nie, sê hy.

Cloete verduidelik: “As jy na die Tuinroete kyk, kan ’n mens sê dis ’n tweede golf wat ons nou daar sien.

“Daar is ’n moontlikheid dat dit na ander areas kan versprei. Die Kaapse metro word dus fyn dopgehou.

“Aktiewe gevalle in die Tuinroete-distrik is aansienlik hoër as in die res van die provinsie.

“Ons wil egter nie die term ‘episentrum’ gebruik nie, want dit het ’n slegte konnotasie.”

Inwoners word aangemoedig om steeds hul maskers te dra, ’n sosiale afstand te hou, handreinigers te gebruik en groot byeenkomste te vermy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters