2 maande gelede
‘Gevaarliker as pandemie’
BEKOMMERD: Taslynn de Wee wil seker maak dat géén vermeende rapist bail kry nie.  ~ Tracy-Lynn Ruiters

“HOU op cowards wees en staan jul man. Los die bail en vat jul pak.”

Dít was die boodskap gister buite die landdroshof in Mitchells Plain toe ’n bekende man vir die tweede keer voorgekom het.

Die 56-jarige man staan tereg op ’n klag van verkragting.

Daar word beweer hy het sy niggie (13) oor ’n tydperk van drie jaar onsedelik aangerand.

Die slagoffer se uncle, ook ’n welbekende in die gemeenskapskringe, sê die verdagte is verlede week gearresteer nadat die meisie teenoor nog ’n familielid oor die bewerings oopgemaak het.

Betogers buite die hof was woedend. Hulle wou weet waarom die beskuldigde beskerm word en nie eens die media in die hof toegelaat is nie.

Volgens ’n ingeligte bron sou die verdagte gister in die hof ’n skorsingsbrief van sy werkplek gekry het.

Die saak is vir ’n aansoek om borgtog uitgestel.

Taslynn de Wee, wat by Safeline Child Abuse Treatment and Prevention Centre as gemeenskapsontwikkelaar werk, het gister buite die hof gesê hul organisasie is in gevalle soos dié heeltemal gekant teen bail.

“Verdagtes kan dan nie eens by lockdown-regulasies hou nie, so wie sê hulle sal by borgtogreëls hou?

“Dis ook ’n bekommernis vir ons kinders, want dis moeiliker om te genees as jou verkragter buite is.”

Onding

Volgens De Wee het die getal misdade teen vroue en kinders op vlak 3 van die lockdown vinnig gespike.

“Dis iets wat ons almal baie bekommerd maak. Dis ’n onding wat steeds in ons gemeenskappe broei. Ons kinders is meer in gevaar wanneer dit by mans kom as met die virus homself!”

Die saak kom weer op 30 Julie voor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters