7 dae gelede
Getuienis oor 'n hard dying
Angelo ‘Elo’ DavidsFOTO Verskaf  ~ 

HULLE was uit op Hard Living-bloed.

En toe hulle Angelo “Elo” Davids kry, het hulle hom voor die gemeenskap pap gesteek, met klippe bestook en aangerand.

Maar toe hulle ’n groot klip op sy kop gooi, het sy tussenbeide gespring.

Dít is die getuienis van Roegshanda Pascoe, ’n gemeenskapsleier en voorsitter van die Manenberg-gemeenskap se veiligheids­forum.

Sy het gister onverskrokke getuig oor die gebeure op 20 Julie 2016 in Pecos Walk in Manenberg.

Sy moes al laas Donderdag getuig het, maar ná ’n hit op haar huis vroeg daardie oggend is die saak uitgestel.

Sy en haar gesin is sedertdien in ’n plek van veiligheid.

Ses mans wat glo lid van die Clever Kids is, staan tereg vir die moord op Davids. Die ses is Monray Fagan, Moegamat “Faizy” Hendricks, Shamiel Petersen, Ziyaad Lewis, Moegamat Naeem Benjamin en Jonathan Willschutt.

Pascoe het getuig dat ’n sarsie skote die hele gemeenskap op hol gehad het.

“Almal het buite in die pad gestaan. Ons het nog hardop gewonder wat gaan nou aan, toe kom daar ’n vrag mans op in ons pad. Hulle het geskreeu: ‘Waar is daai HL-n****rs nou?’ ”

Sy sê Hendricks was die voorloper en voorbok van die crowd.

Nog mans het hulle by die groep aangesluit en van huis tot huis geloop tot hulle Davids gekry het.

Pascoe het getuig Hendricks het Davids eerste gesteek en toe die mes aangepass. Hendricks se dogter en ander ondersteuners in die galery was hoorbaar ontevrede oor Pascoe se getuienis. Ná ’n vermaning van regter Thandazwa Ndita het van hulle liewer geloop. Die res was stil.

Pascoe sê sy het ingespring toe die groep mans ’n klip op Davids se kop gegooi het. “Ek het geskreeu: ‘Dis nou genoeg! Julle kan mos nou ophou!’ ”

Behalwe Fagan het sy al die ander beskuldigdes uitgeken. Die saak duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters