8 dae gelede
Gesluite Uitzig weer hof toe
G’n HEENKOME: Leerders van die Hoërskool Uitzig staan gister verdwaas rond by die skool sonder enige onnies of ’n hoof. Foto: BASIL AFRIKA  ~ 

DIE regspan van die Hoërskool Uitzig gaan nou ’n interdik bekom om die skool oop te hou.

Dit kom nadat die departement van onderwys ’n week voordat die skole oopgemaak het, die skool se sleutels by die hoof kom haal het.

Intussen het die meer as 100 leerders wat by die skool opgedaag het, nog geen onderrig ontvang nie.

Daar is geen onnies of skoolhoof by die skool nie en die skool se klaskamers en toilette is ook toegesluit.

Gister het hoopvolle leerders weer gaan kyk of hulle skool dalk oop is.

Volgens Malvern de Bruyn probeer hulle sedert Woensdag om die departement van onderwys in die hande te kry.

Hartseer

De Bruyn, ’n oudleerder van die skool en provinsiale sekretaris van Cosatu, sê: “Die direkteur van onderwys is nie beskikbaar om met ons te vergader nie.

“Ons is nou genoop om ’n dringende interdik teen die departement te bekom om die skool oop te sluit.

“Dis baie hartseer wat met die leerders gebeur.”

De Bruyn beweer dit is baie gevaarlik vir die leerders om na die Hoërskool Ravens­mead of St. Andrews te loop omdat hulle beroof of aan­geval kan word.

Die Hoërskool Uitzig is reeds vier jaar gewikkel in ’n regsgeding met die onderwysdepartement, wat dit wil sluit weens die vervalle toestand.

Volgens die voormalige Cosatu-man Tony Ehrenreich mag die onderwysdepartement nie die skool sluit voordat die appèlhof die saak aangehoor het nie.

Die departement van on­der­wys voel egter enige ander­ hof sal tot presies dieselfde besluit kom.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters