2 maande gelede
Gesinne op plaas al 2 jaar in donker
IN DIE DONKER: Jaco Fortuin (29) maak gebruik van ’n kers om ’n bietjie lig in sy huis te bring.  ~ Jonathan Lestrade

HARTSEER!

Dit is hoe Jaco Fortuin (29) sy lewensomstandighede op ’n plaas tussen Malmesbury en Darling beskryf.

Die afgelope twee jaar sit hy en agt ander families op die plaas sonder krag nadat die plaas se eienaar die kabels na bewering gesny het.

Fortuin, wat al vyf jaar op die plaas woon, sê: “Ons het op ’n dag twee jaar gelede opgestaan en die krag was skielik net af – sonder enige waarskuwing of ’n boodskap van die eienaar,” sê hy.

“Ek het gedink dat daar dalk ’n probleem is met die kragbokse en die kabels, net om uit te vind dat die eienaar dit afgesny het. Hoe doen ’n mens dit?

“Dit is nie asof ons verniet hier woon nie. Ons betaal huur elke twee weke,” sê Fortuin.

Hy verduidelik hy en sommige van sy bure werk op ’n ander plaas en daar is ’n ooreenkoms tussen die twee plaaseienaars.

“My werkgewer trek elke maand die huurgeld van ons pay af en dit gaan direk na die eienaar van die plaas waar ons woon. Die geld wat afgetrek word, is R800 per maand en dit sluit die kraggeld ook in,” verduidelik hy.

Maar die eienaar van die woonplaas het aan hulle gesê hy gaan kragbokse installeer sodat hulle hul eie krag kan koop.

“Dit was twee jaar gelede. Ons het self die trenches gegrawe vir die kabels, maar dit is vergeefs, want hier sit ons nou sonder krag.

“Dit is moeilik vir ons en ons betaal nog huur, wat onregverdig is,” sê hy.

Fortuin sê die krag is gesny omdat party van die mense nie hul huur betaal het nie en party het nie werk nie. Almal word egter nou geraak deur die keuse wat eienaar gemaak het om die krag te sny.

“Behalwe dat ons nie krag het nie, is daar ook nie binnetoilette op die plaas nie.

“As ons toilet wil gebruik, moet ons buite in die bosse gaan.

“Dit is hartseer om so te woon, maar waar anders gaan ons werk en plek kry om te woon? Dit is baie swaar om nou alles te los en werk en verblyf te soek.

IN DIE DONKER: Jaco Fortuin (29) maak gebruik van ’n kers om ’n bietjie lig in sy huis te bring.

Vuur

“Ek het ook ’n baba op pad met my meisie wat saam met my woon en as gevolg van dié situasie het sy gesê sy gaan nie hier bly met die baba nie.

“Dit laat my baie sleg voel. Ons is ’n familie, maar as gevolg van die omstandig­hede kan ons nie saam bly nie – ter wille van die baba,” sê Fortuin.

Die families moet elke oggend en nag vuur maak.

“Ons kan nie vleis koop nie, want ons kan dit nie in die yskas bêre nie. Ons kan nie ons ketels aansit vir ’n warm koppie koffie of tee nie en daar is niks warm water nie. Dit is onmenslik om so te woon en dit laat ons almal baie hartseer voel,” sê hy.

Vir Erica August (33) en haar saamleefmaat, Alfredo Namba (25), wat ook op die plaas woon en op die ander een werk, is dit maar ook ’n moeilike situasie om in te wees.

“Ons moet maar so aangaan. Watter keuse het ons? Ons maak maar vuur en neem die ghellie in om die huis warm te maak,” sê August.

Namba sê daar is een spoeltoilet, maar dit is ’n risiko wat hulle neem om dit te gebruik.

“Hoe kan hy (die eienaar) verwag dat ons almal een toilet moet gebruik? Wat van al die kieme?

“Dan is daar nog Covid ook. Ons sal siek raak. Dit is ’n groot risiko. Ons gesondheid is ook belangrik,” sê hy.

Dries van der Merwe, eienaar van die plaas waar Fortuin woon, sê sowat 300 m van die kragkabels is gesteel en die krag is nie deur hom afgesny nie.

“Die kabels gesteel en daar is geen company wat die kabels kom vervang nie. As iemand dit nou aansit, dan moet die kabels gekoop raak en geïnstalleer word.

“Die kwotasie wat ek gekry het, is iets soos R80 000.”

Van der Merwe sê die mense wat op die plaas woon, het gevra of hulle tydelik daar kan woon.

YSKOUD: Alfredo Namba, sy seuntjie, Alrando (4), en sy saamleefmaat, Erica August, sit om ’n vuur in ’n ghellie-blik om warm te bly. Foto: Jonathan Lestrade

Ekstra

Hy’t bevestig dat hy ’n ooreenkoms het met die eienaar van die plaas waar Fortuin werk, maar dat dit ’n tydelike ooreenkoms is.

“Die ooreenkoms is net vir ’n gebou en water. As daar moet krag wees, moet daar ekstra daarvoor betaal word en dit is baie geld. Ek kan nie R80 000 uithaal en hulle weier dan om te betaal nie.

“Die huise is nie permanent nie; dit is tydelik. Dit moet verwyder word. Dit is in die 80’s gebou.

“Hulle het gesê hulle gaan ander verblyf kry en ek het vir hulle genoeg tyd gegee, ook in die lockdown. So, ek weet nie wat hulle verder te doen staan nie,” sê hy.

Charlie Thompson, die eienaar van die plaas waar Fortuin werk, het bevestig dat hy ’n ooreenkoms met Van der Merwe aangegaan het.

“Sover my kennis strek, het hulle ’n ooreenkoms aan met die eienaar waar hulle huur.

“Al wat ons ooreenkoms is, is dat ons die huur oorbetaal aan die eienaar elke twee weke en hul ooreenkoms met die eienaar is een wat hulle self bespreek het, volgens my kennis,” sê hy.

HELP: Jaco Fortuin in sy eenvertrek-woning. Foto: Jonathan Lestrade
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters