26 dae gelede
Gesin verloor vyf in 4 jaar
HARTSEER: Lester Caine en sy ma, Jasmine, voel steeds die pyn.  ~ Peter Abrahams

DIS altyd hartseer vir enige iemand as net een familielid sterf.

Maar in vier jaar het Jasmine Caine van Klapmuts haar man, ’n kleinkind, haar een seun en twee susters aan die dood afgestaan. Nou is net sy en haar jongste seun, Lester (19), oor.

Haar man, Isaac (42), en haar kleinseun, Caydon (2), is binne twee weke uitmekaar dood.

Isaac het op 7 Desember 2016 in ’n ongeluk gesterf. Klein Caydon het op 20 Desember 2016 verdrink.

Jasmine se ousus, Charlotte Williams (49), het in Junie 2017 weens siekte gesterf en Jasmine se oudste seun, Ivan (24), is ook weens siekte in Augustus 2018 dood.

Op 7 September 2020 het haar jongste suster, Jacoba Jeftas (38), gesterf nadat sy siek was.

Jasmine vertel ná haar man se dood het sy erg begin drink.

Hartseer

“My twee seuns, Lester en Ivan, het daardie tyd gesê hulle ken my nie so nie. Ek het na my kinders geluister en die drank gelos.

“Wanneer ek iemand aan die dood afstaan, dan pass ek uit. Maar ek kom weer reg ná so ’n rukkie.

“As ek so hartseer en af voel, dan gaan ek in gebed in. As ek swak voel, dan praat ek met die Here.”

Lester sê wat gebeur het, voel nie normaal nie.

“My pa is dood in ’n ongeluk, maar ek voel onseker oor sy dood oor hoe dit gebeur het.”

Dit het hom baie geraak en hy het begin sukkel op skool en is selfs geskors.

Hy sê geld was ook ’n probleem. Hy het later die skool verlaat.

In die lockdown gaan dit ook broekskeur. Jas­mine en Lester werk tans twee keer ’n week by ’n huisagent, Theo du Preez, in Stellenbosch. Hy’t hulle ná die sterftes bygestaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters