2 maande gelede
Gesin steeds seer ná 32 jaar
denel
Poppie met haar oudste seun, Wayne, en haar jongste kind, Samantha.  ~ Ian Baard

MAANDAG se tragedie by Denel het ou wonde van 32 jaar gelede vir die Sameuls-gesin van die Strand oopgekrap.

Sammy Sameuls, ’n pa van vyf kinders, was 35 toe hy op 5 Maart 1986 in ’n ontploffing by die toe Somchem- fabriek gesterf het.

Saam met Sameuls het ook Frikkie Brand van Macassar sy lewe verloor. Ander is ernstig beseer.

Magrieta Hofman, wat met Sameuls getroud was, sê sy weet waardeur die families op die oomblik gaan.

Poppie, soos almal haar ken, het haar meegevoel met die families uitgespreek en gesê sy kan net bid vir hulle, want dit is nie maklik om so iets oor te kom nie.

Poppie sê ná al die jare het sy en haar kinders nog nie closure oor haar man se dood nie.

Sy doodsertifikaat sê net sy dood word ondersoek.

Poppie sê: “Ek en my gesin het deur hel gegaan. Ná die begrafnis het Somchem se base soos mis voor die son verdwyn. Ons moes maar ons eie potjie krap met die min geld wat aan my uitbetaal is.

“Mense in die Strand het gedink ek is ’n miljoenêr. Maar ek het net ’n lump sum van R25 000 en ’n maandelikse pensioen van R390 gekry.

“Die departement van arbeid het vir my R500 per maand betaal vir my vyf kinders (R100 per kind) tot die ouderdom van 18.”

Haar maandelikse pensioen het oor die jare gestyg en vandag kry sy R3 000 per maand.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters