Verlede maand
Gesin kwaad vir hospitaal
HARTSEER: Theodore Marthinus vertel hoe hulle nog alles vir sy mammie se tuiskoms beplan het – en toe die verdriet oor haar afsterwe.  ~ Foto Verskaf

HUL gesin het reggemaak om hul ma huis toe te bring.

Maar toe kry hulle die tyding sy is oorlede.

Ella Ceasar (59) van Wesbank het Saterdagaand in die Brackenfell-hospitaal weens Covid-19 afgesterf.

Maar volgens haar familie is hulle voor dit ingelig dat hul ma baie beter vaar en binnekort huis toe sou kon gaan.

Haar seun Theodore Marthinus sê: “Ons het verwag my ma kom huis toe, nie haar lyk nie.

“Die ergste van alles is, ons is eers Maandag laatmiddag ingelig dat sy oorlede is. Sy het al die Saterdagaand afgesterwe.

“As my ma huis toe gekom het, sou ek vir haar ’n suurstoftenk gekoop het om by die huis aan te sterk.

“Dit het baie beter met haar gegaan en ons het verwag dat sy binnekort huis toe sou kom.

Ingelig

“Ons het heel naweek die hospitaal gebel om uit te vind hoe dit met my ma gaan.

“Niemand het die foon opgetel nie en eers Maandagoggend, nadat ek twee keer gebel het, kon ek met die bestuurder by die hospitaal praat.

“Ek is ingelig dat die dokter my later sal terugbel. Eers amper 15:00 het hulle gebel om te sê my ma het al die Saterdagaand afgesterf.

“My vrou het dieselfde simptome gehad en is saam met my ma na die hospitaal toe.

“Sy het egter besluit om nie by die hospitaal te bly nie en by die huis aan te sterk. Sy het tuisgemaakte medisyne gebruik en heeltemal gesond geword.”

Ceasar se jongste seun, Cameron Marthinus, sê: “My ma was twee weke voor Kersfees siek. Ons het haar na die Eersterivier-hospitaal geneem om uit te vind wat fout was.

“Haar bors het gebrand en was toegetrek.

“My ma het ’n hartprobleem en hoë bloed gehad. Hulle het by die Eerste­rivier-hospitaal bloed getrek, om te kyk of sy Covid-19 het.

“Ons het nog nooit die uitslae gekry nie. Ons soek antwoorde oor hulle ons nie dadelik laat weet het my ma is oorlede nie.”

Volgens Shimoney Regter, ’n woordvoerder van die gesondheids­departement, kan hulle bevestig die pasiënt is op 6 Januarie by die Bracken­gate Hospitaal van Hoop toegelaat.

Regter sê: “Die pasiënt se seun is as die naaste familielid aangeteken en hy is verskeie kere gekontak om hulle in te lig oor haar toestand nadat sy in die hospitaal opgeneem was.

“Ons het probeer om hom te kontak, maar kon hom nie in die hande kry nie.

“ ’n Personeellid het Maandag weer probeer en die familie ingelig.”

Sy het die familie aangemoedig om die hospitaal se bestuurder te kontak as hulle enige ander griewe het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters