12 dae gelede
Gesin brand vir herstel van huis
IN SY TJOPS: Davene Abrahams sê ’n groot gedeelte van die dak is erg beskadig en as dit reën, dan is die hele plek sopnat.  ~ Jonathan Lestrade

AS DIT reën, is alles papnat.

Só vertel Davene Abrahams (26) van Rusthof in die Strand nadat sy al etlike maande saam met haar familie in ’n brandbeskadigde huis woon.

’n Groot gedeelte van die council-huis wat sy met haar man, Angelo Bester (34), kinders en skoonpa deel, is op 3 September 2020 in ’n brand beskadig.

Abrahams sê hulle weet steeds nie hoe die brand ontstaan het nie.

“Ek was by die bure gewees toe dit gebeur het. Toe ek terug na die huis gaan, het ek gesien al my skoonpa se goed is uitgebrand. Dit was te laat vir ons om enige iets te doen,” vertel sy.

Abrahams vertel dat die mure tot by die dak gebrand is.

Sy sê: “Die kragboks het ook gebrand. So, ons kry nou by ander mense krag, want die Stad Kaapstad kom nooit uit om die huis te kom regmaak nie.

“Ons was al daar by die council office.

“Hulle sê net hulle gaan laat weet, maar hulle kom nooit uit nie.”

Verbygegaan

Bester noem moedeloos dat dit nou al langer as ses maande is en steeds wag hulle op die Stad Kaapstad om hulle te help.

“Die dag van die brand het ’n man van die council vir my gesê dit kan tot op drie maande vat vir hulle om uit te kom om die huis reg te maak en as gevolg van Covid-19 kan dit langer neem, maar dit is nou al maande wat verbygegaan het en ons wag nou nog.

“Ons het gehoop teen hierdie tyd is die huis nou al reg, maar steeds niks nie,” sê hy.

Abrahams sê hulle weet nie meer wat om te doen nie.

“Ons wil graag terug in die huis intrek, maar ons kan nie nou nie. As dit reën, dan staan die water in plasse. Ek moet soms in die nag opstaan om die water uit te vee,” sê sy.

Abrahams sê as gevolg van die klamheid vorm daar nou al mos teen die mure en die brandreuk hang nog sterk in die huis.

Sy, haar man en die kinders gebruik nou die voorste gedeelte van die huis waar hulle slaap, eet en kuier, maar die spasie raak te klein vir hulle.

“Ons kan nie vir ewig so bly nie en my skoonpa wil graag terug by sy huis kom, maar hy kan nie. Dit gaan hom siek maak om hier te woon.

“Ons vra nie vir ’n nuwe huis nie. Ons vra net dat wat beskadig is herstel word sodat ons die huis kan gebruik,” sê sy.

Die Stad bevestig dat hierdie eiendom in die Stad se besit is.

Die Stad se departement van openbare behuising doen sy bes om die proses af te handel om die nodige herstelwerk binne die kortste moontlike tydsbestek uit te voer.

Verskoning

“Dit verg heelwat tyd, maar die behoorlike proses moet gevolg word. Assesserings is gedoen en die werk sal so gou as moontlik begin.

“Ons vra opreg om verskoning vir die tyd wat dit neem,” was die Stad Kaapstad se kommentaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters