Verlede maand
Gesiene leier uit oor video
OPSKUDDING: ’n Vrou praat nou oor jare van beweerde onsedelike aanranding.  ~ Foto ter illustrasie

’N JONG vrou word wyd geloof nadat sy die sluier gelig het oor onsedelike aanranding wat na bewering dekades lank in ’n prominente Moesliem-familie voorgekom het.

Die jong vrou beweer haar oupa en sy tweelingbroer het verskeie vroue in die familie oor ’n tydperk van drie dekades misbruik.

Die kleindogter, wat nou saam met haar eie gesin in Jordanië in die Midde-Ooste woon, beweer sy was vyf jaar oud toe haar oupa haar die eerste keer gemolesteer het. Sy het die bewerings vervat in ’n 15 minute lange video wat sy op YouTube gelaai het.

Aangesê

Sy vertel sy het nog altyd oor die gebeure gepraat.

“Ek is altyd aangesê om ‘oor dit te kom’, want my oupa is oud en hy gaan een van die dae dood.”

Sy sê toe sy verlede jaar in Kaapstad was, het sy weer daaroor gepraat omdat niemand in die familie ooit iets daaraan gedoen het nie.

Dit is toe dat sy verneem het ander vroue in die familie beweer haar oupa het hulle ook onsedelik aangerand en dat sy broer glo ook ander gemolesteer het.

Die broers is albei afge­trede skoolhoofde.

Albei mans dien in verskeie organisasies en rade in die Moesliem-gemeenskap.

Verskeie mense het die jong vrou geloof vir haar openbarings.

Een van dié mense is eerw. June Dolley-Major van die Anglikaanse Kerk.

Dolley-Major het Woensdag ’n saak teen haar vermeende verkragter heropen.

Dolley-Major sê sy glo die jong vrou. Sy ken ook die oupa.

“Hy was my skoolhoof.

“Haar geval is soortgelyk aan myne. Sy moet baklei vir haar justice.

“Ek sal by haar staan en haar ondersteun.

“Die publiek moet ophou om oortreders te beskerm en slagoffers stil te maak. Dit moes baie gevat het om haar stilte te verbreek.”

Nadat baie Kapenaars wou weet wat die Muslim Judicial Council (MJC) oor die bewerings teen die broers te sê het, het die raad gister sy stilte verbreek.

Die MJC het in ’n persverklaring gesê hy is uiters geskok oor die beweringe in die clip.

“Die broers word van pedofilie en molestering beskuldig.

“Die een broer dien in ons onderwysraad.

“Hy is onmiddellik tot verdere kennisgewing geskors. Ons veroordeel enige vorm van onsedelike aanranding van kinders en vroue.”

Die familie wil nie verder oor die video praat nie.

’n Ander kleinkind het wel sy suster se video op sy Facebook-blad gedeel.

By navraag het hy gesê: “Ek en my susters wil niks meer kommentaar oor die video deel nie. Die doel van die video was om mense te waarsku oor die gevare van abusers.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters