Verlede maand
Gerekende prokureur is oorlede
HARTSEER: Die prokureur Bradley Muller (links) saam met sy destydse kollega Gary Petersen voor die Blue Downs-hof.  ~ Leon Bonthuys

’N GROOT boom in die regs- en rugbywêreld het Woensdag geval met die afsterwe van Bradley Muller (47).

Hy was ’n prokureur en landdros by die Bellville-hof.

Volgens sy ma, Daphne, het Muller inmekaargesak toe hy Woensdagmiddag ná werk by sy huis in Kraaifontein aankom en uit sy kar klim.

“Ons het ’n ambulans gekry en hy is geneem na die Karl Bremer-hospitaal, waar hy gesterf het. Hy het ’n geweldige stroke gekry.”

Sy sê almal het van hom gehou. “Hy het veral oumense gehelp en mense wat swaargekry het. Hy was baie goedhartig en nie suinig nie. Bradley was baie lief vir mense.”

Spore

Gary Petersen, ’n vriend en medeprokureur wat destyds saam met Muller gewerk het, sê hulle het almal vir hom respek gehad.

“Ons het saam by Legal Aid ge-article. Bradley het ook baie werk in die gemeenskap gedoen. Baie goeie lawyers het uit Legal Aid gekom.

“Hy is later daar weg en het op sy eie gegaan. Hy het nooit probleme gegee nie en hy het sy sit geken.”

Muller was baie lief vir rugby en het veral by die Hands and Heart-rugbyklub in Kraaifontein diep spore getrap.

Hy het jare lank tot die klub behoort.

In 2018 en 2019 was hy ondervoorsitter van die klub, en die laaste tyd was hy ’n addisionele lid.

Muller laat sy vrou en twee seuns (9 en 10 jaar) agter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters