3 maande gelede
Gemeenskap kom in opstand
Woede teen cops: Polisie gryp Sondag in toe betogings in Hangberg handuit ruk.  ~ 

“HULLE los hom net daar agter in die diep blou see.

“Hoe kán hulle?”

Dit was die ontstelde uitroepe van Errol Johnson (45) en Riaan Knewel (36) nadat hulle gister uit die Wynberg-hof weer tussen hul mense in Hangklip aangekom het.

Johnson en Knewel is die twee vissermanne wat saam met die vermiste Durick van Blerk (25) op sy rubberduck was toe op hulle geskiet is.

Met trane in sy oë vertel Johnson van die bevel wat aan hom geblaf is: “Moenie nog opkyk en rondkyk nie!”

Hy sê hy sal dit nooit vergeet nie. Dit was glo die woorde van een van die beamptes aan hom en Knewel nadat hulle Saterdag 05:00 op Van Blerk se boot gearresteer is.

“Ons was op pad huis toe toe twee swart bote in ons rigting aankom. Die skote het net begin klap. Daar is niks gesê nie en hul ligte was af.

“Ek en Riaan het plat op die boot se dek geval. Durick het nog gestaan. Hy skipper mos die boot en toe hoor ons net hoe val hy in die water. Ek dink toe hulle die enjin dood skiet, het hulle hom ook in die rug geskiet,” reken Johnson.

Knewel beweer daar is agterna nóg op Van Blerk geskiet toe hy klaar in die water was.

Johnson sê verder hy en Knewel is toe oorgeplaas in een van die donker bote in, waar hulle plat op die boeg moes gaan lê sonder om op te kyk.

“Ek het nog gevra wat van Durick. Ons kon hom nog in die water sien. Hulle kon hom nog uit die water gehelp het. Een van die beamptes het net gesê dit het niks met hulle te doen nie,” vertel die vissermanne.

Johnson en Knewel is toe na die Tafelbaai-hawepolisie se kantoor geneem.

KWAAD: Roscoe Jacobs sê die gemeenskap is nie happy oor hoe die polisie die saak gehanteer nie. Foto: PETER ABRAHAMS
Woede teen cops: Polisie gryp Sondag in toe betogings in Hangberg handuit ruk.
Vermis: Durick van Blerk is skoonveld. Foto: Facebook
brand: ’n Bakkie staan Sondag in ligte laaie langs ’n huis. Foto’s: Leon Knipe

Hulle het gisteroggend in die Wynberg-hof verskyn op aanklag van die onwettige besit van vis. Hulle is op R1 000 borgtog vrygelaat en gewaarsku om weer op 20 September te verskyn.

Intussen probeer die twee vissers die gebeure verwerk.

“Dit is baie traumaties vir ons. Ons weet nie waarom op ons geskiet is nie. Hoekom het hulle nie ons vriend gehelp nie? Ons kon hom nog sien,” sê Knewel.

  • Intussen het Roscoe Jacobs, ’n jeugleier in die gemeenskap, verduidelik waaroor die oproer Sondagmiddag in Hangklip gegaan het: “Die mense wou self na Durick gaan soek, maar is deur die departement van visserye (Daff) gekeer. Dit het mense kwaad gemaak, want hulle wou maar net help,” sê hy.

Getorch

Dit het gelei tot ’n gewelddadige protes waarin die huis van ’n Daff-personeellid aan die brand gesteek is.

’n Ander gebou in die hawe is ook getorch.

Hiervoor is drie mense gearresteer vir openbare geweld.

Eers toe Durick se ouers met die gemeenskapslede kom praat het, het die opgesweepte gemoedere tot bedaring gekom.

“Die gemeenskap het steeds hoop dat hy nog lewe en dis waarom hulle die soektog begin het.

“Hoekom verhoed hulle ons om saam te werk? Ons soek tog na ’n vermiste persoon ...”

Ander vissermanne wat gister op die hawe was tydens die soektog wat deur die polisie gelei is, meen die polisie is bang dat inwoners Durick eerste gaan kry.

“Hulle weet mos as ons hom kry en hy is vol gate geskiet, gaan die k*k spat,” sê een visserman.

Volg Astrid Februarie op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters