8 maande gelede
Gemeenskap is woedend
MEDELYE: Bheki Cele het die families besoek.  ~ Peter Abrahams

TOE die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, gister die weduwee van ’n polisiebeampte besoek wat oor die naweek doodgeskiet is, het sy in trane van hartseer uitgebars.

’n Geween kon gehoor word deur die huis van sers. Mnakwazo Mdoko (46), wat saam met sy kollega konst. Mninawa Breakfast (28) doodgeskiet is.

Strate

Die voorval het Sondag in die vroeë oggendure in, Phumlastraat, in Bloekombos, Kraaifontein, gebeur toe die beamptes deur ’n groep mans oorval en van hul dienspistole beroof is.

Albei is doodgeskiet en op die toneel dood verklaar.

Mdoko se huis is net ’n paar strate weg van die moordtoneel en die gemeenskap is erg ontstoke oor sy skietdood.

Cele, sy gevolg en vele ander polisiebeamptes het ’n kort gebedsessie by Mdoko se huis bygewoon.

Hy het aan Mdoko se vrou, Khanyisa, tans twee maande swanger, sowel as die gemeenskap belowe om die res van die moordenaars vas te trek nadat Mxoleleni Sikhala Maandag in Mandela Park, Khayeli­tsha, aangekeer is.

’n Familiewoordvoerder, Mini Jacobs, sê Mdoko het definitief nie verdien om só te sterf nie.

Volgens Jacobs was hy nie net ’n polisieman nie, hy het ook ’n oop hart vir sy gemeenskap gehad.

Hy sê: “Die familie is baie hartseer. Selfs die mense in die gemeenskap.

“Hulle het baie van hom gehou, want hy was nie net ’n polisieman nie, hy was deel van die gemeenskap.

Bang

“Hy het nie geskroom om mense te help nie, selfs gestremde mense.

“Ek wil alle Suid-Afrikaners vra oor die ding waar onskuldige mense doodgemaak word. Nie net polisiebeamptes nie, maar álmal.

“Dit moet nou stopgesit word!

“Die misdaad in Kraaifontein is baie hoog. Selfs ék is bang vir die geweld.

“Ek vra dat ons sal saamstaan en geen onskuldige persoon vermoor word nie.

“Dit moet tot ’n einde kom, want ons as Suid-Afrikaners woon in ’n demokratiese land en dit maak ons een.”

Neville Sampson, ’n leier van die Kraailove-gemeenskapsgroep, was ook gister tydens Cele se besoek by Mdoko se huis.

Sampson sê: “Dit was nogal hartseer om die seer op die families se gesigte te sien.

“Mense, dis nie ’n maklike pil wat gesluk moet word nie.

“Vir die kindertjies, vroue en selfs die ouers van die oorlede polisiemanne, gee ek my innige simpatie.”

Sikhala het gisteroggend in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

Hy word aangekla van twee moorde, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede (deurdat hy die beamptes se vuurwapens met ammunisie en ’n selfoon by hulle gesteel het).

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Si­khala gisteroggend nog nie ’n lawyer gehad nie.

Die saak is uitgestel sodat hy ’n regsverteenwoordiger kan kry.

Die saak dien weer op 9 Maart in die hof.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters