Verlede maand
Geliefde cop mooi onthou
GROOT DROEFHEID: Raadslid Alvina Abrahams word deur haar seuns Duran (links) en Ashwin (regs) vertroos.  ~ Anele Mfazwe

’N POLISIEMAN met integriteit is eerbaar gegroet.

AO David Jonathan Abrahams se roudiens is Woensdag by sy huis in Amstelhof in die Paarl gehou.

Son het onlangs berig Abrahams is dood weens Covid-19-verwante komplikasies nadat hy in die hospitaal se ICU opgeneem is.

Abrahams se weduwee en raadslid by die Drakenstein-munisipaliteit, Alvina, het tot die laaste gehoop dat haar man sou herstel.

Daar is net ’n sekere getal mense by die memorial service toegelaat.

Sosiale distansiëring is toegepas en almal teenwoordig het maskers gedra.

Die kis is nie oopgemaak nie. Dit is alles so gedoen in ooreenstemming met die Covid-19-verwante lockdown-regulasies.

Familielede, veral Alvina en hul twee jongste seuns, Duran en Ashwin, kon nie hul trane terughou nie.

Die familie en gemeenskap was egter­ daar om hulle in hul tyd van hartseer te vertroos.

Verskeie kollegas, gemeenskapsleiers en inwoners beskryf­ die ontslape polisieman as iemand van integriteit.

Skollie

Sy vriende noem hulle verkies om hom te onthou soos hy gelewe het.

“ ’n Man wat nooit teruggestaan het vir ’n skollie nie,” onthou ’n kollega.

MOOI AFSKEID: Die lykswa verlaat Amstelhof in die Paarl-Oos Woensdag nadat AO David Jonathan Abrahams se roudiens afgehandel is. Foto: Anele Mfazwe

Volgens hulle het Abrahams gehou van braai en potjiekos.

Sy oudste seun, Evro, wat ook in die polisiediens is, het veral polisie­beamptes vir hul ondersteuning bedank.

Hy sê: “In die polisie word daar gesê ‘an injury to one is an injury to all’.

“En ek kan sien net hoe waar dit is.”

’n Hartseer Alvina vertel aan Son: “My kinders is nou my bron van krag en sterkte. Ek kry hulle so jammer.”

Conrad Poole, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het ook aan Abrahams hulde gebring.

Impak

Poole het benadruk Abrahams was ’n man van integriteit en hy het die familie met ’n paar Bybelverse bemoedig.

Die burgemeester het namens die munisipaliteit mede­lye met die familie betuig.

Poole sê: “Hy (Abrahams) het ’n impak op die breër gemeenskap gehad.

“Ek wil aan die familie sê die Here het die wond geslaan en die Here is die een wat dit kan genees.

“Hy is wat Hy is. Hy is gister, vandag en môre dieselfde.

“Hy is in staat om julle deur te dra.

Begrawe

“Namens die Drakenstein-munisipaliteit en die gemeenskap van Amstelhof wil ons julle alle sterkte en voorspoed toewens.”

Abrahams word vandag vanuit die AGS-kerk in die Paarl begrawe.

Net 50 mense sal ingevolge die lockdown-regulasies binne die perseel toegelaat word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters