15 dae gelede
Geen lyke kom uit
met julle: Vriende en familie hou gister ’n roudiens buite die hek van die Denel-aanleg.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

DIE hoop om hul ge­liefdes wat dood is in die Denel-tragedie ’n laaste keer te sien, het gister vir talle families vervaag.

Past. Denver Abrahams, wat families op die toneel ondersteun, glo daar is nie lyke om vir die families te wys nie, want dit is in die ontploffing in stukkies geblaas.

Ag jong mans is Maandagmiddag in die ontploffing by Rheinmetall Denel Munition (RDM) in Macassar dood.

Norbert Schulze, die uitvoerende hoof van RDM, sê die ontploffing is veroorsaak toe ’n mengproses van plofstof verkeerd geloop het.

Daar hang nog ’n donker wolk oor presies hoeveel slagoffers dood en beseer is.

Gewag

Daar is bevestig dat Jason Hartzenberg, Nico Samuels, Bradley Davids, Jamie Hendricks, Triston Davids, Steve Isaacs, Mxolisi Sigadla en Thandolwethu Mankayi dood is.

Denel Ontploffing:FOTO:JONATHAN LESTRADEFoto:
DRUKKIE: Een van die slagoffers, Jason Hartzenberg, se familie vertroos mekaar gedurende die roudiens.

Van die families het laat gistermiddag nog gewag om hulle geliefdes uit te ken.

Abrahams sê: “Almal wag nog op ’n aankondiging, maar niemand gee die families­ antwoorde nie. Hulle­ het berading ontvang.”

Intussen het honderde vriende en familielede ’n roudiens buite die hekke van RDM gehou.

Hartzenberg (21) se familie sê hy het die afgelope drie maande daar gewerk, maar is op kort kennisgewing geplaas.

Hy het Maandag die eerste keer weer gaan werk.

Hartzenberg, wat die pa van ’n jaar oue dogtertjie was, was die broodwinner van sy familie.

Sy hartseer tante Marilyn sê: “Dit is baie hard vir die familie. Hy was ons staat­maker.”

Beverly January, die ouma van Hartzenberg se girlfriend, bestempel hom as ’n voorbeeldige mens.

Die familie van Samuels, wat ’n toesighouer was, het die doodstyding Maandagaand gekry.

’n Inwoner sê dis die ergste ongeluk in meer as 30 jaar by RDM.

Schulze sê: “Ons het die afgelope tien jaar drie on­gelukke gehad.

Denel Ontploffing:FOTO:JONATHAN LESTRADEFoto:
met julle: Vriende en familie hou gister ’n roudiens buite die hek van die Denel-aanleg.Foto’s: JONATHAN LESTRADE

“In een geval was daar ’n brand waarin een slagoffer dood en drie beseer.

“Ons kan nog nie bevestig hoeveel mense in die ontploffing Maandag oorlede is en of enigeen vermis word nie.

“Die gebied moes eers veilig verklaar word sodat die forensiese personeel kan ingaan.”

Intussen gaan werk by RDM voort omdat die ander geboue van die aanleg nie beskadig is nie.

Tien personeellede was aan diens by die aanleg toe die ontploffing plaasgevind het.

Dipuo Letsatsi-Duba, die minister van staatsveiligheid, het RDM se perseel gister besoek.

Soeklig

Chris Nissen, ’n lid van die SA Menseregtekommissie, sê die inwoners wat naby RDM woon, is bekommerd oor hul veiligheid.

Die bekwaamheid en veilig­heid van die werk­nemers is ook skerp onder die soeklig geplaas.

Forensiese personeel was laat gistermiddag steeds druk besig om die ongelukstoneel te prosesseer.

Die slagoffers se oorskot is ook nog nie verwyder nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters