4 dae gelede
Geen kommer ná dié stekie
SWAK BESIGHEID: Anita Andries (regs),’n sekswerker en Sweat-aktivis, sê hulle trek swaar in die bedryf weens die pandemie.  ~ Anele Mfazwe

SEKSWERKERS staan nou meer kans om deur ’n verpleegster gesteek te word as deur ’n klant.

Sekswerkers moan hul besigheid is erg deur die Covid-19-pandemie getref.

Sowat 50 van hulle het gister na die Mowbray-polisiestasie gemarch waar hulle die dekriminalisering van sekswerk geëis het.

Die prossies het daarna na die Blackpool-sportkompleks opgeruk waar hulle in samewerking met die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement en die Pink Drive teen Covid-19 ingeënt is.

Die Sex Workers Educa­tion & Advocacy Task force (Sweat) was een van die organiseerders van die event.

Anita Andries, ’n sekswerker en Sweat-aktivis, sê die pandemie het hulle hard getref.

Volgens haar was dit veral aan die begin met die harde lockdown baie moeilik vir hulle om hul klante te sien.

Andries (29) sê: “Sekswerk gaan nie net oor penetrasie nie. Daar is online sekswerk, sowel as texting.

“Ons het egter geld nodig. As ’n klant op penetrasie aandring, dan het jy geen ander keuse nie.

“Ander sekswerkers is weens die pandemie gedwing om minder te charge, want van die klante het gekla hulle het nie geld nie.

“As gevolg hiervan is sekswerkers gedwing om harder te werk vir minder geld, want hulle wil darem iets op die tafel sit.”

Sy voeg by hulle hou hul maskers op wanneer hulle besig is om met hul customers te service.

“Jy moet jou masker aanhou deur die hele proses en ons sanitise voordat en nadat die daad gedoen is,” voeg die vrou by.

Sy sê verder die regering het absoluut niks vir hulle gegee om hulle te help kop bo water hou in die pandemie nie.

“Ek het nie eens die R350 gekry nie,” vertel sy laggend. “Ek is gesê ek kwalifiseer nie. Selfs raadslede in ons areas het meer tyd vir hul eie mense gehad wanneer dit gekom het by die uitdeel van kospakkies.

KRY HAAR JAB: ’n Ongeïdentifiseerde sekswerker word gister by die Blackpool-sportkompleks in Soutrivier ingeënt.

Beskerming

“As jy nie iemand ken wat vergaderings in jou area bywoon nie, kan jy maar vergeet van ’n food parcel kry.”

Nog ’n sekswerker, Portia Tyembile, sê met die inenting gaan hulle beskerming teen die corona-virus kry.

Tyembile (38) sê: “Dit gaan nie net veilig wees nie, dit gaan beter wees.

“Dit beteken nie ek sal nie besmet word nie. Maar dit sal jou nie seermaak nie. Sekswerkers moet ingeënt word, want ons kom daagliks in kontak met baie mense.

“Daar is nie veel verskil tussen nou en die begin van die pandemie nie.

“Baie van ons klante is weens die virus bang om na ons te kom en hulle het ook nie meer geld nie.

“Ons vat geen kanse met diegene wat nog kom nie, want ons maak seker ons sanitise voor én nadat die besigheid klaar is, en beide die sekswerker en die klant moet hul maskers deur die hele besigheid aanhê.

Sy sluit af: “Dit is nie awkward nie, want die klante weet dis nou Covid-tyd.

“Sommige van hulle kom na ons met hul eie sanitisers en maskers saam.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters