Verlede maand
Geen einde in sig met boelies
BANG: Vennessa Johnson en haar dogter Faith gesels met Son.  ~ Jonathan Lestrade

HOEVEEL meer emosionele skade kan jy opdoen terwyl jy steeds probeer om oor jou vrees vir skool te kom en dan boonop dissiplinêr aangekla word nadat jy die slagoffer van boelies was?

Dís die lot van Faith Johnson (14), wat verlede week wreed deur medeleerders aangerand is.

Son het verlede week berig oor die tienermeisie van Darling wie se beserings so erg was dat sy in Tygerberg-hospitaal geëindig het nadat ses ander meisies haar aangerand en haar hare uit haar kop getrek het.

By Son se besoek het die leerder van Vooruitsig Primêr vertel sy wil nie teruggaan skool toe nie.

Nou het nóg ’n slag die kind getref. Die skool het aan haar ’n brief gestuur vir ’n dissiplinêre verhoor omdat sy in haar skoolklere by ’n bakleiery betrokke was.

Haar mammie, Vennessa Johnson (48), sê hulle weet nie waarom Faith aangekla is nie, aangesien sy die slagoffer is.

Johnson vertel: “Faith was veronderstel om die afgelope Maandag terug skool toe te gaan.

“Die maatskaplike werker het Maandag hier by die huis aangekom en aangeraai dat ek vir Faith dokter toe vat omdat sy baie vreesbevange en angstig is om skool toe te gaan.”

Faith kon nie die verhoor Maandagaand bywoon nie, omdat sy in die Swartland-hospitaal opgeneem en oornag gehou is. Sy is eers Dinsdag ontslaan.

Johnson vertel Faith het slaappille by die dokter gekry, maar sy het dit nou weggesit omdat sy nie wil hê sy moet te gewoond raak daaraan nie. Sy voeg by dit gaan al beter, maar Faith is nog baie skrikkerig.

Johnson is tevrede dat haar dogter nou in ’n ander skool plek gekry het.

“Sy het ook plek in die koshuis gekry, maar weens die voorval verkies ek dat sy vir eers van die huis af skool toe gaan.”

Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement het Faith gekontak.

“Die leerder ontvang tans psigososiale ondersteuning van die distrik se gespesialiseerde afdelings vir leerder- en opvoeders­ondersteuning en veilige skole.”

Sy voeg by die boelies se dissiplinêre verhoor moet ook nog plaasvind. Hulle is toegelaat om toetse te voltooi.

  • Intussen sukkel ’n 15-jarige seun van die Weskus nou al twee jaar om by ’n skool in te kom. Hy sit ook met emosionele letsels weens boelies en is dus bang om terug te keer skool toe.

Sy ma vertel haar seun se nagmerrie het twee jaar gelede begin.

“My seun se geld is altyd afgevat. Daar is op sy brood gespoeg en hy is gereeld geslaan.”

Sy verduidelik wat hom tot breekpunt gedryf het, is toe seuns hom in ’n klaskamer vasdruk en sê hy moet hulle masturbeer.

Hulle het sy hand gevat en op hul privaat dele gesit.

Hulp

Die mammie het haar seun uit die skool gehaal en sedertdien sukkel sy om hom in ’n ander skool te kry, want hy wil nie teruggaan nie.

“My kind is baie getraumatiseerd en het al selfmoordneigings gehad.”

Die ma beweer dat die onderwysdepartement nie van veel hulp is nie.

Volgens haar is al die skole vol. Die departement het genoem daar is nog plek in sy vorige skool, maar dis waar die boelievoorvalle plaasgevind het.

Merton bevestig dat die betrokke boelievoorval in 2019 aangemeld is en dat die leerder wel ondersteuning van die maatskaplike werker by die skool ontvang het.

“Dit het egter gestop toe die ouer besluit het om die leerder uit die skool te haal.”

Volgens Merton hét hulle in 2020 plek by ’n skool gekry, maar die ouer het dit van die hand gewys.

Al die skole van die ma se keuse is oorvol en sy het ook nie vir hom vir 2021 aansoek gedoen nie.

Met haar kind wat nie na die boelieskool wil terugkeer nie, oorweeg hulle nou tuisonderrig, wat heelwat meer geld kos.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters