25 dae gelede
Gee skuldige eie medisyne, pleit ma
G'N GENADE: Augustine Saayman rou steeds.  ~ Murphy Roberts

“HY MOET suffer soos my kind gesuffer het.”

Só vra Augustine Saayman, die ma van die vermoorde Ashwin Saayman. Hy is dood nadat hy in Desember 2016 byna 400 m ver in Mamre se hoofweg gesleep is.

Verlede week het Saayman ter verswaring getuig in die saak teen Myron Krus, wat vroeër skuldig bevind is aan moord. Haar stem was nog dik van verdriet. Sy het die hof gesmeek om die beskuldigde die swaarste moontlike straf op te lê.

Verander

Krus het destyds getuig hy het die oorledene nie gesleep nie, maar Ashwin het met ’n mes in die hand aan die kar vasgeklou.

Twee getuies het getuig Krus het Ashwin vasgehou. Krus het sy getuienis later verander en gesê hy het nie ’n mes gesien nie. Augustine het emosioneel aan die hof verduidelik hoe wreed haar kind gesterf het. Sy het gesê die getuies moes sielkundige berading kry.

Sy het getuig: “Ek kan nie die prent vergeet van hoe my kind gelyk het nie, u edele.”

Augustine het gesê haar kleinkind vra elke dag na haar pa. “Soos hy (Krus) nie genade aan my kind getoon het nie, vra ek die hof om ook geen genade aan my kind se moordenaar te toon nie.”

Krus sal Maandag hoor wat sy lot gaan wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters