2 maande gelede
Gedelf na diens
GATVOL: Inwoners van Delft het gister saamgestaan om hul kommer uit te spreek oor die swak dienslewering wat hulle kry. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

HY PRAAT, maar doen f*kk*l!

Hy maak beloftes waarby hy nie staan nie.

Hy mislei die mense met sy praatjies.

Hy moet gáán!

Die gemeenskap van wyk 20 in Delft sê hulle verhouding met die raadslid Courtney van Wyk het verbrokkel oor swak kommunikasie.

Hulle voel niemand luister na hulle pleidooie nie.

Die mense het gister die strate ingevaar om hulle frustrasies met dié raadslid uit te gil.

Gewag

Sowat 100 inwoners het betoog teen Van Wyk se brand van dienslewering. Hulle het van die taxi-staanplek in Delft-Suid af na die Delft-burgersentrum gemarch.

Daar het hulle op Van Wyk gewag om ’n memorandum van eise te oorhandig.

Maar hy het nie uitgesteek nie, want die saamtrek was onwettig.

“Ek was op pad, maar toe bel die Delft-polisie se stasiebevelvoerder en sê die march is illegal en dat my veiligheid nie verseker is nie,” vertel Van Wyk.

Bonani Mbolekwa, voorsitter van die South African National Civic Organisation (Sanco) in wyk 20, Delft, sê: “Ons het ’n raadslid wat nie vir ons werk nie. Ons demand dat hy verwyder word en dat iemand wat ons wil help, in sy plek gesit word.

“Ons kan nie ’n raadslid in ons gemeenskap hê wat nooit beskikbaar is nie!”

Maar Van Wyk sê hy het laas maand twee keer en toe weer op 5 September met Sanco vergader.

Hy sê dis vir hom duister hoe hulle kan march net dae nadat hy met hulle gepraat het.

“Iewers het die agenda verander. Dit maak net nie sin nie,” sê ’n oorblufte Van Wyk.

Maar Mbolekwa sê Van Wyk kom nooit sy beloftes na nie en is nie deursigtig met die gemeenskap nie.

“Ons is moeg van verskonings en ons is moeg daarvoor dat niemand na ons luister nie. Ons word nie gerespekteer nie. Ons soek aksie, vandag!” raas Mbo­lekwa.

Van Wyk sê sy kantoor se deur is altyd oop en hy is altyd beskikbaar vir die gemeenskap.

HELP ONS! Bonani Mbolekwa van die Civics Organisation in Delft sê die gemeenskap is gatvol vir swak dienslewering.

“Ek sit nie en niks doen nie. Ek is hier vir die gemeenskap,” sê hy.

Maar Mbolekwa hou dik dis nie nuwe probleme nie en al dié goed is al voorheen met die raadslid bespreek.

“Ons bly oor dieselfde dinge praat. Die ligte wat nie werk nie. Die parkies wat nie skoon is nie. En nie genoeg mense word aangestel vir gemeenskapsprojekte nie. Ons wil weet wanneer ons raakgesien sal word,” sak hy af.

Buig

In die memorandum eis die gemeenskap antwoorde binne 21 dae.

Van Wyk sê hy volg die wetgewing en kan nie besluite neem sonder om sekere prosesse te volg nie.

“Ek kan nie die reëls buig om die organisasie of gemeenskap bly te maak nie. Ek sê weer: My deur is oop om oor die bekommernisse te praat.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters