25 dae gelede
Gebroke ma soek nog geregtigheid
omgekrap: Pollenys Davids van Kleinvlei wil weet hoekom die saak so sloer.Foto: CHRISLYNN SIAS  ~ 

“IS DAAR dan geen geregtigheid vir my kind se dood nie?”

Dís die vraag waarmee Jamie-Lee Davids (11) se ma, Pollenys Davids, steeds worstel. Jamie-Lee is op 28 September 2016 doodgery.

Die gr. 5-leerder se lewe is kortgeknip toe ’n motoris ’n stopteken in Kleinvlei geïgnoreer en haar omgestamp het. Sy was op die sypaadjie besig om ’n matriekleerder te bewonder wat op pad was na haar matriekafskeid.

Vrygelaat

Voordat die polisie nog op die toneel was, is die bestuurder weggeneem. Hy het hy glo gevrees vir sy lewe. Die gemeenskap was oproerig oor wat gebeur het. Die bestuurder is na bewering met klippe bestook.

nog geen vordering: Septembermaand is dit reeds drie jaar sedert Jamie-Lee Davids van Kleinvlei dood gestamp is.

Davids beweer die man wat haar kind doodgery het, het hom ’n week ná die voorval aan die polisie gaan oorgee. Hy het blykbaar net ’n verklaring afgelê en is daarna weer vrygelaat.

Volgens kapt. FC Van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is ’n saak van strafbare manslag geopen.

“Niemand is nog gearresteer nie. Die dossier is vir ’n beslissing na ’n senior aanklaer verwys.”

Davids is nie gelukkig dat die saak so sloer nie. Sy beweer daar is ongerymdhede.

Sy sê: “Ek soek geregtigheid vir my lieflingkind, wat ek steeds baie mis.

“Ná my kind se dood is verskeie mense al hier in die straat raak gery. Die mense ry so roekeloos en soos spoedvrate in die straat.

“Ons het al ’n petisie opgestel om spoedwalle in die straat te laat opsit. Dit is aan die destydse burgemeester, Patricia de Lille, oorhandig. Daar het niks van gekom nie.

“Hoeveel mense moet nog hulle lewe verloor voordat daar iets gedoen sal word?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters