Verlede maand
‘Gebed red’ ma toe houe reën
gewond: Ebel is vol blou kolle nadat sy aangeval is. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

“HULLE plan was om my dood te maak.

“Ek glo stellig as ek nie die Here aangeroep het nie, was ek nou dood.”

Só sê ’n vrou van Eerste­rivier, Stacey-Lee Ebel (30). Sy beweer sy is op 1 September deur haar kind se pa en vier ander mense aangepak.

Ebel, ’n ma van vier, vertel sy en haar seun (10) se pa het weke voor die voorval ’n woordewisseling gehad. “My seun het my ná ’n kuier by sy pa vertel hy gaan nie meer daarheen nie, want die pa se meisie is katterig met hom.”

Ebel sê sy het die pa ingelig en gesê die kind kan voortaan net by hom gaan kuier as hy by sy ma is.

“Ek het ook ingestem dat die kind vir die pa se birthday na hom toe kan gaan.”

Op 1 September het sy die man gesien. “Ek het gestop en vinnig vir hom gesê hy kan die kind op sy birthday by die skool gaan haal.”

Die man se meisie het op die stoep gestaan.

“ ’n Tydjie later het een van sy (die kind se pa) vriende my kom roep. Ons het nog gestaan en gesels, toe bespring ’n hele groep mense my.

“In die groep was my kind se pa, sy girlfriend, haar antie en stiefpa en nog ’n vriend van hom.”

Herstel: Ebel was in die hospitaal opgeneem. FOTO’S Verskaf
Seer: Haar oë was vir dae lank toegeswel.
amper daar: Twee weke nadat Stacey-Lee Ebel aangerand is, is haar oog steeds bloedrooi. Foto: MELINDA STUURMAN

Sy sê sy wou weghardloop, maar die kind se pa het haar van agter af getrap.

“Ek het geval en hulle was op my. Die antie het op my gesit en my gewurg. Sy het gesê sy gaan my doodmaak.”

Die ander het haar teen die kop geskop en getrap, vertel Ebel.

Ebel se man en vriende het ’n ent van die aanval gesit en kuier, maar was onbewus van wat buite aangaan.

“Ek het geskreeu en gebid. Toe roep ek uit: Here, help my! Eers toe het hulle my laat gaan.”

Ebel huil toe sy vertel haar eks het nog die laaste trap ingekry toe iemand haar ophelp. “Dit was die seerste.”

Sy is die volgende dag uit die hospitaal ontslaan en het ’n saak gehad.

Dieselfde dag het sy gehoor daar was ’n sterfgeval in die eks se familie.

“Ek het die polisie gevra om hulle eers kans te gee om te rou voordat hulle enige iets doen.”

Ebel sê nog ná die voorval het niemand nog enigsins aan haar verduidelik wat sy verkeerd gedoen het nie. “Niemand het ook nog jammer gesê nie.”

Die polisie bevestig ’n saak van aanranding is geopen.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Siyabulela Malo, ’n polisiewoordvoerder, gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters