8 dae gelede
GBV victim sit nie vir mesdood
MAN DOOD: ’n Middeljarige ma het ’n opgeskorte vonnis gekry.  ~ Foto ter illustrasie

OUDTSHOORN. – Die streekhof het ’n vrou Vrydag ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat sy haar man met ’n mes doodgesteek het en aan strafbare manslag skuldig bevind is.

Susan Plaatjies (50) van Volmoed het die pa van haar drie kinders, Kiewiet Plaatjies (45), die aand van 2 Mei 2018 buite hul wendyhuis met ’n mes in die nek gesteek nadat hulle weer saam gedrink en hy haar weer aangerand het. Hy het dié aand weer haar arm gebreek wat hy ’n vorige keer met ’n plank afgeslaan het.

Plaatjies het tereggestaan op aanklag van moord.

Sy het ná haar skuldigbevinding getuig sy voel baie sleg oor wat sy gedoen het en dat sy nooit weer so iets sal doen nie. Sy voeg by sy het omstreeks ’n jaar gelede besluit om drank te los.

Sy het ook die afgelope vier maande ’n saamleefmaat wat haar goed behandel.

Geprik

Volgens Plaatjies het haar man van agt jaar haar verskeie kere aangerand.

Hy het haar met ’n graaf oor die kop geslaan, met ’n mes in haar rug geprik en met bloudraad en plank geslaan.

Sy het egter nooit klagte by die polisie aangemeld nie.

Plaatjies se regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat die beskuldigde ’n lewe van geweld gelei het en nie beplan het om haar man dood te maak nie.

Die staatsaanklaer, Willem Vister, het egter vir ’n gedeeltelik opgeskorte vonnis gevra omdat Plaatjies skuldig bevind is aan ’n ernstige misdryf wat hoogty vier.

“Dit is ’n tragiese sameloop van omstandighede, maar die beskuldigde kon na die polisie gegaan en ’n interdik teen haar man verkry het.

“ ’n Lewe is egter geneem en die kinders is ’n pa ontneem,” het Vister betoog.

Streeklanddros Retha Pretorius het by vonnisoplegging gesê dit is duidelik dat die beskuldigde ’n slagoffer van gesinsgeweld was en gereeld beserings opgedoen het.

Sy het egter die wet in eie hande geneem en moet dus gestraf word.

Verduidelik

Plaatjies is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is in die geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort. Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die landdros het ná die vonnisoplegging aan Plaatjies verduidelik dat die vonnis vir vyf jaar gebêre word en toegepas sal word indien sy in dié tyd weer aan ’n soortgelyke misdryf skuldig bevind word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters