2 jaar gelede
Gayton ‘wil die evictions keer’
brand: Inwoners van Steen Villas in Steenberg versper Maandag die pad met brandende vuilisdromme om die uitsettings te keer.Foto verskaf  ~ 

GAYTON McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, gaan die uitsettings by Steen Villas, Steenberg, beveg.

Hy sê hy het R100 000 vir regskoste bewillig om die uitsettings te keer.

“Al moet ek R1 miljoen gee, sal ek dit gee. Al moet ek die beste advokate kry, sal ek dit kry. Niemand help die bruin mense nie.”

McKenzie het so pas van China teruggekeer en is van voorneme om Steen Villas volgende week te besoek.

“Ek weet nie waarom ons mense vir die DA stem nie. Die wit mense is duisende rande agter met eiendomsbelasting en huur, maar hulle word nie uitgesit nie.

“Waarheen moet al daai kinders gaan wat hulle wil uitsit? Moet hulle hulle by die bendes aansluit?

“Ek sal die uitsettings met alles beveg,” meen McKenzie.

Rafeek Hendricks, ’n prokureur wat aangestel is om die uitsettings te beveg, sê hy sal eers vandag oor die saak kommentaar kan lewer.

Tina Schoor, ’n inwoner van Steen Villas, sê: “Gayton McKenzie is die enigste mens wat die mense in hul donkerste uur help. Niemand van die DA-regering of DA-stadsraad wou ons help nie.”

Die DA-stadsraad huur die grond aan Sohco, aan wie die 700 wooneenhede behoort, teen R150 per jaar.

Die balju van die hof wou Maandag 22 families uitsit nadat ’n uitsettingsbevel gekry is weens agterstallige huurgeld.

Maar die inwoners het weerstand gebied. Skote het geklap en vuilisdromme is aan die brand gesteek en gebruik om die pad te versper. “Trokke met 100 sekuriteitswagte het opgedaag. Hulle het eers bejaardes geteiken om hulle uit te sit. Maatskaplike werkers wou die kinders vat en toe breek daar chaos uit toe die mense dit hoor,” sê Beryl Schouw, nog ’n inwoner.

Heather Maxwell, uitvoerende hoof van Sohco, het by navraag gesê die uitsettings is tydelik uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters