15 dae gelede
Gangsters kla oor ‘marteling’
Bebloed: Quan Pipers se tande is uit sy mond gemoker.  ~ Verskaf

DIT wil vir ’n groep bendelede voorkom asof die bloues van bendes ontslae wil raak voordat daar ’n cure vir Covid-19 gevind word.

Lede van die teenbende-eenheid word daarvan beskuldig hulle gangsters van Elsiesrivier die afgelope week so erg gemartel het dat een glad gesterf het.

Volgens ’n vermeende slagoffer, Tiaan Fredericks, ’n lid van die 28’s- tronkbende, het die teenbende-eenheid op 6 September self soos gangsters by die huis opgeruk waar hulle gepaartie het.

Daar is op hulle geskiet, traangas gespuit en die krag is onmiddellik gesny, sê Fredericks.

Hulle is so erg aangerand dat van hulle met gebreekte bene en arms in die hospitaal opgeneem is, voeg hy by.

Hy beweer die eenheid het hul pel Leroy Oliphant (30) twee dae later ook van sy huis in Epping Forest weggeneem. Hy is dood nadat hy gemartel is, sê Fredericks.

Ndileka Cola van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sê hul ondersoek na Oliphant se dood is aan die gang en die nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van sy dood bepaal.

Volgens Fredericks het die lede van die teenbende-eenheid sonder ’n lasbrief by hulle opgedaag en hulle na ’n veld in Ravensmead geneem.

“Daar het hulle ons getorture. Toe neem hulle ons na ’n drug-huis van die Dixie Boys. Daar het hulle ons verder getorture.

“Hulle het die musiek hard gedraai sodat die mense ons nie kon hoor skreeu nie.

“Daar het hulle ons tot so past 01:00 die nag gemartel.

“Toe neem hulle ons terug huis toe en breek die hekke af. By die huis het hulle ons verder geslaan.

Respek

“Ons is onderstebo gehang en met hamers en ysters geslaan.

“Skreeu ons nie ‘Maak o’s ma’ dood nie,’ dan het hulle nie opgehou nie.”

Fredericks sê hy kan nie verstaan hoekom die polisie so iets met hulle sou doen nie.

Volgens hom het hulle groot respek vir hulle en verwag hulle dieselfde.

“Ons sou nie ’n saak maak nie, want dan sit hulle sonder jobs, maar hoekom doen hulle­ dit?

“Ons sal ook nie revenge vat nie, want ons doen nie sulke goed nie. Vir hulle sien ons in die hof!”

Fredericks beweer die lede van die unit het R15 000 en goud by hulle afgevat, en dis nie eens by die polisiestasie ingeboek nie.

Dit het hulle uitgevind toe hulle die saak gaan aanmeld het, sê hy.

Quan Pipers, wat lelik aangerand is, het aan Son gesê hy het nog nie ’n saak gemaak nie, want hy sit met ’n gebreekte been en arm.

Cola het teen druktyd nog nie gereageer op Son se navraag oor die voorval waarna Fredericks verwys nie.

  • Nes die reën kliphard oor die naweek geval het, net so kliphard het die bullets Saterdag in Delft gevlieg.

Drie mans is in afsonder­like voorvalle in Delft-Suid en Blikkiesdorp afgemaai.

In die Blikkiesdorp-voorval, sê die polisiewoordvoerder brig. Novela Potelwa, is die driver van ’n kar afgemaai, asook die passasier toe hy van die toneel probeer vlug het.

Die cops ondersoek drie klagte van moord.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters