29 dae gelede
‘Gangs, drugs is al uitweg’
Wil beter: Natasha Downe saam met die man in ’n eetplek.Foto: Fu’ad Rahman  ~ 

“EK WIL my lewe verander, maar dis moeilik hier buite. Die kanse is goed dat ek weer vir die druglords gaan werk.”

Só praat ’n lid van die 27’s-tronkbende wat onlangs uit die Pollsmoor-gevangenis op parool vrygelaat is. Hy (25) het vier jaar vir moord gesit.

Son was teenwoordig toe Natasha Downe, ’n jong vrou van Wellington, die man vir ’n meal na ’n eetplek gevat en hom probeer oorreed het om dwelms te los.

Doodgeskiet

Die man vertel: “Ek kan nie survive nie. Die tronk was nie lekker nie, maar dis veel erger op straat. Ek was ’n kaptein in die tronk. ’n Tronk gangster het krag.

“Ek het die gangster-wette binne die tronk enforce.

“Voor ek ingegaan het, was ek ’n hit man. Ek het vir enige een gewerk wat my dienste benodig het. Ek het mense doodgeskiet.

“Dit was nothing personal – just business. Ek wil dit nie meer doen nie, maar soos dinge nou staan, is daar geen ander uitweg as om weer vir die druglords en gang-base te werk nie.”

Downe het die gangster in ’n Kaapse straat raakgeloop terwyl hy tik in ’n donker steeg gerook het.

Downe het aan Son gesê: “Die system maak dat hy soos ’n hond op straat is. Hy was uitgehonger en het geskarrel vir ’n paar bob.

“Daar was ’n hartseer op sy gesig. Maar hy het eerder die geld vir tik gebruik.

Parlement

“Hy is maar net ’n jong man wat hulp makeer.

“Die parlement is in sitting en die president het sy Sona speech gemaak, maar niks word gedoen om ons jong mense se lewe te probeer verbeter nie.

“Dis hoekom ons mense gangsters word.

“Hulle noem hulself The Street Dogs omdat hulle soos honde moet skarrel om aan die lewe te bly.

“Die system het die ‘straathonde’ gefail.”

Sy sê dit breek haar hart en laat haar trane stort.

“Daar is ook vroue wat op straat beland, en van hulle word ook gangsters.

“Dis hoe ’n vrou op straat so maklik onder ’n brug verkrag en vermoor kan word.

“Dis tyd dat iemand die regering wakker maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters