4 dae gelede
Gaan weg of jy kry dieselfde
Ons ma! Rushaana Adams sê sy sal haar broer vergewe, maar hy moet eers eerlik wees.Foto’s: Tracy-Lynn Ruiters  ~ 

NÁ VIER jaar is daar steeds vrae oor hoe Gafsa Roberts se lyk in ’n wheelie bin beland het.

Haar seun, Shakoor Roberts (25), is drie dae ná haar verdwyning gearresteer en staan tereg op aanklag van moord.

Hy het gister in Mitchells Plain se landdroshof verskyn vir die begin van sy verhoor. Hy het die hof ingelig hy gaan skuld ontken.

Sy suster, Rush­aana Adams, het gister getuig, en vir die eerste keer het Roberts in die hof emosie getoon.

Volgens Adams het sy ’n vreemde gevoel gekry toe sy die Vrydag voor die moord met haar ma gechat het. Adams het gesê haar ma was veronderstel om haar kind die Vrydag te kom haal, maar het nie gekom nie.

Sy het toe vir haar ma ’n boodskap gestuur om te vra waar sy is.

“Sy het reply, maar daar was spasies tussen haar woorde. Dit is iets wat sy nie geweet het hoe om te doen nie.”

Adams het getuig sy sou die Saterdag na haar ma se huis gegaan het, maar haar kar het gebreek.

“Ek het die hele dag gebel en gebel, maar sy het nie opgetel nie. Dit was weird, want sy was altyd gretig om die foon te antwoord.”

Adams en haar man het die Sondag deurgegaan. Hy en Roberts het stry gekry.

“Hy het daar iets gesê wat my ontstel het. Hy het gesê ek moet loop voordat hy dieselfde aan my doen wat hy aan haar (die vermoorde) gedoen het.

“Ek wou weet wat hy gedoen het, maar hy was te aggressief en te wild.”

Toe Adams dít sê, het Roberts sy kop laat sak en begin huil.

Gafsa se geregtelike doodsondersoek dui op erge mishandeling. Sy is met ’n stomp voorwerp teen haar kop en bors geslaan.

Adams het getuig sy is toe polisiestasie toe vir hulp, maar sy is weggewys omdat sy haar ma eers self by die huis moes soek.

Hulle is toe terug na haar ma se huis.

Haar broer was nie daar nie en al die deure was gesluit. Nadat Adams ’n spaarsleutel gekry het, het hulle die huis drie keer deursoek en toe weer polisiestasie toe gegaan.

Nêrens

Die volgende oggend het Adams die oproep gekry dat haar ma by die huis is, maar nie meer lewe nie.

“My ma was in die wheelie bin. Shakoor was nêrens te vinde nie.”

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters