13 dae gelede
‘Gaan terug’
Dan Plato  ~ Melinda Stuurman

DIE grondbesetters moet terugkeer na waarvandaan hulle gekom het.

Só meen Kaapstad se uitvoerende burgemeester, Dan Plato, en die nasionale minister van menslike nedersettings, Lindiwe Sisulu.

Plato en Sisulu het Dinsdag vergader. Hulle het toe saamgestem die huidige grondbesettings, wat regdeur die Stad plaasvind, sal nie geduld word nie.

Plato sê die Stad Kaapstad het R850 miljoen opsy gesit vir die opgradering van plakkerskampe en vir behuisingsgeleenthede vir backyarders.

Plato voeg egter by: “Die grondbesettings het ’n negatiewe impak op behuisingsontwikkeling in Kaapstad.

“Daar is honderde mense wat al vir meer as 20 jaar vir huise wag. Maar die ontwikkelings waarby hulle sou baat vind, is ontwrig toe die grondbesetters in Khaye­litsha op die grond geplak het wat vir behuisingsontwikkeling geoormerk was.

“Die Stad en die nasionale regering sal in die vervolg saamwerk om na beskikbare grond te kyk; om te sien waar ons grond kan vind vir hervestiging en vir tyde­like verblyf.

Hy sê verder: “Die minister (Sisulu) was ook duidelik met haar standpunt dat die grondbesetters terug moet gaan na waar hulle vandaan gekom het.

“Hulle het drie tot vier weke gelede êrens gebly. As hulle deur hul landlords uitgesit is, was die uitsettings onwettig en hulle moet die klagte by hul naaste polisiestasie aanmeld.”

KOPSEER: Shacks word nou byna in elke area in die Kaap opgeplak, veral die afgelope drie weke. Foto: Melinda Stuurman

Volgens Plato het hy sy kommer teenoor Sisulu uitgespreek oor die min polisiëring om grondbesettings te stuit. Hy sê sy het belowe om die aangeleentheid met die polisieminister, Bheki Cele, te bespreek.

Sisulu het bevestig Plato het ’n plan aan haar voorgelê oor hoe om met die behuisingskrisis sowel as met Covid-19 te deal. Sy voeg by sy het die plan verwelkom.

Kansvatters

Volgens Sisulu is ’n breedvoerige plan nodig om aan beide die onmiddellike en langtermyn-behuisingsnood aandag te skenk.

Sy sê: “Ons moet beklemtoon dat alle planne wat ons in werking stel, vir diegene bedoel is wat dit verdien en nie vir kansvatters nie.

“Ons sal elkeen wat grond beset, ondersoek om te sien of hulle regtig desperaat is vir hulp.

“Dié wat die wet oortree het, sal egter die gevolge dra.

“Ons wil verder ’n beroep doen op landlords wat die laaste tyd aan ons mense verblyf gee, om hulle nie uit te sit nie.

“Ons almal weet Covid-19 het mense hard getref en dit het tot werksverliese gelei. Armer gemeenskappe is die ergste getref. Ons moet ubuntu handhaaf.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters