13 dae gelede
Gaan groot met raids, eis Icosa
WIL PROSEDEER: Sylvia Qunta, burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, dreig om die SIU hof toe te sleep.  ~ Foto Verskaf

ONDERSOEK die hele Wes-Kaap se PPE-verwante tenders.

Dít is die mening van die Independent Civic Orga­nisation of South Africa (Icosa).

Dít volg nadat die spesiale onafhanklike eenheid (SIU) vandeesweek ’n klopjag by die ANC-beheerde Cederberg-munisipaliteit se kantore in Clanwilliam uitgevoer het.

Ondersoekers het Maandagoggend onverwags by die munisipale bestuurder se kantoor opgedaag.

Opdrag

Luidens ’n SIU-persverklaring is beslag gelê op dokumente wat deel gaan vorm van die ondersoek.

Dít kom ondanks die feit dat die munisipaliteit na bewering die personeellede opdrag gegee het om nie hul samewerking aan die SIU te gee nie.

Die mayor van die Cederberg-munisipaliteit, Sylvia Qunta, dreig nou om die SIU hof toe te sleep, want sy beweer die klopjag was onwettig.

’n SIU-woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die aantyging is vals. Kganyago sê pres. Cyril Ramaphosa het hulle sowat ses weke gelede toestemming gegee om alle moontlike PPE- verwante bedrog en korrupsie te ondersoek.

Die klopjag kom net ’n paar weke nadat die SIU ’n raid by die Matzikama-munisipaliteit se kantore in Vredendal uitgevoer het.

Die Wes-Kaapse Icosa-leier, Dawid Kamfer, verwelkom die klopjagte.

Hy sê: “Icosa is die laaste tyd baie bekommerd oor die DA-beheerde munisipaliteite in die Wes-Kaap, veral in die lig daarvan dat die DA die mense se oë op ANC-munisipaliteite ge­fokus hou.

“Icosa wil PPE-kontrakte by alle Wes-Kaapse munisipaliteite laat ondersoek.

“Die DA wys die hele tyd na die ANC vinger, maar nêrens is tenders uitgesit waar die DA in beheer is nie, terwyl miljoene rande in hul rekeninge betaal is.”

SOEK: Die SIU slaan onverwags by die munisipale kantore in Clanwilliam toe. Foto: Verskaf

Lorraine Botha, DA-kiesafdelingshoof in Cederberg, verwelkom ook die klopjag.

Sy sê: “Die Cederberg-munisipaliteit is vir jare as die ANC Weskus se ‘spaza shop’ bestuur.

“In 2011 se plaaslike verkiesing het die ANC ’n finansieel gesonde munisipaliteit by die DA geërf, maar die munisipaliteit is kort daarna in skuld gedompel.

“In 2016 se plaaslike verkiesing het die DA ’n munisipaliteit oorgeneem wat finansieel verniel is.

“As gevolg van die DA se goeie bestuur en integriteit het die munisipaliteit in 2017 vir die eerste keer in sy geskiedenis ’n skoon oudit ontvang.

“Maar, in ’n 2019-tussenverkiesing wat gekenmerk is deur talle ongerymdhede en korrupsie, het die ANC weer die bestuur van die munisipaliteit oorgeneem.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters