Verlede maand
Foon ‘lui’ net tot probleme
ONTEVREDE: Sonia Solomons is baie ontevrede oor Telkom se diens.  ~ Foto Verskaf

’N VERJAARDAGGESKENK veroorsaak nou groot ongelukkigheid.

Sonia Solomons (55) van Bishop Lavis is briesend en beweer sy het swak diens by die selfoonnetwerk Telkom gekry.

Solomons vertel sy het so drie maande terug by Telkom in die Zevenwacht Mall in Kuilsrivier ’n kontrak-selfoon vir haar dogter uitgeneem.

Dit was as ’n verjaardag­geskenk vir haar meisiekind.

Skaars ’n maand later het die selfoon begin probleme gee.

“Ons het die foon teruggeneem na die winkel, waar hulle gesê het die rede is omdat die eerste paaiement nog nie betaal is nie en ons moet dit by Woolworths gaan betaal.”

“Nadat ons die paaiement betaal het, was die foon nog altyd nie reg nie,” vertel Solomons.

Hulle is toe gesê om N1 City Mall toe te gaan omdat daar ’n tegnikus is wat na die foon kan kyk.

Daar gekom kon húlle ook nie help nie. Hulle sê toe die foon moet ingeboek word.

Sy het toe die foon gaan inboek by Parow Centre, waar dit nou al die afgelope twee maande was.

Volgens Solomons moes hulle ook ’n bedrag betaal terwyl die foon daar was.

Met groot ontsteltenis vertel Solomons dat sy onlangs ’n oproep gekry het om te sê die foon is reg en kan opgetel word.

Solomons sê die foon gee steeds dieselfde probleme.

“Dit lyk soos ’n ou toestel of hulle het niks daaraan gedoen nie.”

Solomons is baie kwaad omdat sy nog elke maand haar paaiement betaal het, maar haar dogter het nog niks nut van die foon gehad nie.

Solomons pak uit: “Ek wil die kontrak kanselleer, maar nou vra hulle ’n R800-kansellasiefooi.”

“Hulle sê ook die foon moet drie keer ingeboek word voordat hulle ’n nuwe een kan gee.”

Solomons voel dis nie reg nie omdat daar nog ’n waarborg op die foon is en sy dit nog nie eens drie maande gehad het nie.

Intussen sê Telkom sy ondersoek het bevind dat die toestel se waarborg weens vloeistofskade verval het.

“Luidens die T’s en C’s maak enige vloeistof op ’n toestel die waarborg ongeldig.”

Telkom sê dat die kliënt hiervan bewus gemaak is en sy is ook meegedeel dat die selfoon herstelbaar is, maar dan moet hulle vir die onderdele betaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters