28 dae gelede
Finale rusplek nie rustig
IN EEN STUK: Curt Lottring het omtrent gebid dat die Here hom onder sy bloed hou.  ~ Jonathan Lestrade

DIT het hom jare gevat om die moed bymekaar te skraap om sy pa se graf te gaan besoek.

Maar Curt Lottring (29), van Kuilsrivier, sou nooit kon dink dis juis hiér waar hy vir sy eie lewe sou moes vrees nie.

Lottring vertel dat hy Sondag besluit het om clo­sure te kry deur sy derra se graf in die Kuilsrivier-begraafplaas te besoek.

Vir hom was dit die eerste keer in ’n baie lang tyd dat hy dit gedoen het oor hy nie ou wonde wou oopkrap nie.

Maar dis presies wat gebeur het toe rowers hom daar besteel, vasgebind en gedreig het dat hy vir sy eie lewe gevrees het.

Hy vertel: “Toe ek omstreeks 11:00 daar aankom, was daar mense in die begraafplaas en ek het besluit om sommer so bietjie by die graf skoon te maak.

“Ek is toe weer huis toe om tuin-tools te gaan haal en het begin skoonmaak.”

Lottring sê toe hy klaar skoongemaak het en terug na sy kar begin loop het, het hy twee ouens opgelet wat baie verdag gelyk het.

Hy vertel: “Toe ek hulle sien, het ek onmiddellik geweet iets gaan hier gebeur.

“Een het nadergekom en ’n gun op my gerig. Ek het dadelik alles uit my sakke gehaal en op die grond neergesit.

“Al wat deur my mind gegaan het, is hóékom? Hoekom op die dag dat ek soveel moed moes bymekaarskraap?”

Lottring vertel hoe die twee luisgatte sy tekkieveters uitgeryg en hom daarmee begin vasbind het daar tussen die grafte.

Hy gaan voort: “My hande en voete was styf vasgebind. Een ou het my hoodie gevat en styf rondom my nek gedraai en die mou in my mond gedruk.

Gespat

“Hulle het toe na my kar gegaan en alles daar uitgehaal. Die kar se sleutels het hulle op ’n grafsteen kom los.

“Die een het my laat weet daar sal ’n derde persoon na my toe kom om my los te maak nadat hulle gespat het.”

Lottring, wat voorheen as fotograaf by Son gewerk het, meen ál die stories wat hy vantevore gedoen het, het in sy kop begin afspeel.

Emosioneel sê hy: “Toe daai derde ou naderkom, ná ’n tyd wat soos ’n ewigheid gevoel het, toe dink ek hier gaan net twee dinge gebeur: Ek gaan óf losgemaak word óf doodgemaak word.”

Hy vervolg hoe gedagtes in sy kop begin maal het.

“Hoe sal my ma weet waar ek is, want ek het haar nie gesê ek gaan na my pa se graf nie.

“Toe hy my losgemaak het, het ek begin huil van verligting. Dinge kon soveel erger gewees het.”

Uit die vreesaanjaende ervaring het hy een ding agtergekom.

Selfs by voorheen vreed­same plekke soos begraafplase moet ook sekuriteit aangestel word oor dít ook nou plekke van misdaad geraak het.

“Hoeveel meer mense is al by begraafplase gerob?

“Dinge kon soveel erger uitgedraai het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters