Verlede jaar
Fidji se vroue kry hupstoot
NUWE voete! Die Fidji-span met hulle nuwe toks. Junaid Moerat is in die middel en Shukri Moerat staan agter derde van links. Junaid se kinders, Adam en Isa, smile ook breed.  ~ Verskaf

DIE meeste spanne wat die afgelope naweek aan die Kaapstad-sewes- skouspel deelgeneem het, het saans en op hulle afdae lekker Kaapstad se strande, Tafelberg, die Waterfront en ander toeristeaantreklikhede verken.

Maar nie almal was so bevoorreg om entertainment- begrotings te hê nie. En kom ons wees nou maar eerlik – Kaapstad is nie ’n goedkoop toeristestad nie.

Die vroue-sewesspan van Fidji was onder 28 spanne wat sake dié naweek in die Cape Town Stadium uitgespook het.

’n Plaaslike sakeman, Junaid Moerat, het Woensdag die Fidjiane ontmoet en dadelik agtergekom dat hulle dit glad nie so breed het nie.

Hulle het feitlik ál hulle tyd in die spanhotel deurgebring.

Daar was eenvoudig nie geld om in restaurante te dine of die nightlife te gaan uitkyk nie.

Moerat, ook ’n uitvoerende bestuurslid van die WP Rugbyunie, het ook agter­gekom dat die vroue se toks al stokoud of in sommige gevalle selfs stukkend was.

Dít terwyl die meeste ander spanne deur sporttoerusting-reuse soos Adidas, Puma of Nike geborg word.

Hy het toe deur middel van sy maatskappy, die Save SA Group, nuwe toks vir elke lid van die span en hulle afrigters geborg.

Shukri Moerat van Sport SA, ’n filiaalmaatskappy van die Save SA Group, sê hulle het Sondag ’n aandete saam met die span geniet.

Sukkel

“Dit was baie nice. Die meisies kon ’n lekker sit-down-aandete by ’n vyfsterhotel geniet en dit was lekker om te sien hoe hulle dit geniet het.

“Hulle kom almal van arm agtergronde en het nie juis geld soos die ander spanne nie.”

Hy voeg by die Fidjiaanse mans-sewesspan is ten volle professioneel, maar die vroue sukkel maar om befondsing te kry.

Volgens Junaid beoog hulle om in die toekoms weer hulp aan die eilanders te verleen.

“Ons wil ’n langtermyn- vennootskap met die Fidjiaanse vroue-sewesspan vorm.

“Ons kyk ook na maniere om hulle verder in die sewesreeks by te staan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters