3 dae gelede
Fiasko van ’n funeral pla
VERKEERDE: Hiérdie is nie die kis wat Ashton Klein se familie bestel het nie.  ~ Foto Verskaf

’N FAMILIE het steeds nagmerries oor ’n nare ondervinding wat hulle met hul broer se begrafnis gehad het.

’n Verkeerde foto op die pamflet, ’n verkeerde en bebloede kis, ’n lykswa wat ry asof “die duiwel hom jaag” en ’n ongewaste lyk wat steeds in die klere was waarin hy dood is...

Dís hoe die familie van Ashton Klein (58) van Elsiesrivier hom Vrydag moes begrawe, vertel sy suster, Selina Swartz.

Voorraad

Volgens Swartz het alles van die begin af met die begrafnisonderneming, V-Plan, verkeerd geloop.

Sy sê toe hulle navraag doen oor kiste, moes hulle hoor daar is nie kiste in voorraad nie.

Swartz vertel: “Die dag van die begrafnis het die lyk sowat ’n uur laat hier opgedaag.

“Toe die pamflette aan my broer gegee is, het hy agtergekom die man op die foto is nie ons broer nie.

“Dis toe hy mal raak en die begrafnisondernemer dwing om die kis oop te maak. Hy’t aan hom gevra: ‘Hoe weet ons die man wat ons begrawe, is wel my broer?’

“Die begrafnisondernemer het geweier, maar op die ou einde moes hy dit doen.”

Swartz sê toe Klein se kis oopgemaak is, het hulle nog ’n skok gekry.

ONTSTELD: Selena Swartz meen Ashton Klein, haar broer, is nie met waardigheid begrawe nie. Foto: Peter Abrahams

Volgens haar het dit gelyk asof haar broer net in die kis gesmyt is. Hy het nie eens ordentlik daarin gelê nie.

Swartz vaar uit: “My broer was steeds in dieselfde klere waarin hy dood. Hy was ook toegedraai in die laken waarin hy was toe sy liggaam uit die huis verwyder is.

“Die kis was nie eens uitgeline van binne nie. Toe ek die ontvangs­dame vra of ek nie self my broer kan was en aantrek nie, het sy gesê hulle sal dit self doen.“Ek het nog ’n nuwe suit en onderklere van hom gestuur.”

Volgens Swartz het hulle V-Plan van hul ontevredenheid in kennis gestel en die onderneming het net verskoning gevra.

Tekort

Toe Son kontak maak met Eddie Meiring, ’n bestuurder van V-Plan, het hy basies alles erken.

Meiring sê dis omdat Klein aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede is dat dinge so gedoen is.

Hy verduidelik: “Soos almal weet, is daar ’n tekort aan kiste. Ons is onder druk met die kiste en dis nie altyd beskikbaar nie.

“Dis sommer nonsens dat daar bloed in die kis was.

“Dis protokol dat ons nie liggame kan voorberei wanneer iemand dood is aan Covid-19- verwante komplikasies nie.

Vereistes

“Hoewel hulle (die familie) klere gebring het, kan ons nie aan die liggaam vat en die lewens van ons werkers in gevaar stel nie.

“Dis die vereistes van die regering en ons volg dit.

“Die kis sou in elk geval nie oopgemaak word nie, maar die begrafnisondernemer is gedreig om dit te doen. Nadat hulle aangehou het, is die kis op hul eie risiko oopgemaak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters