4 maande gelede
KYK: Familie se ‘lig’ nou uitgedoof
Ruben Raubenheimer  ~ Foto Verskaf

RUBEN was altyd die lig. Hy het altyd gelag en hy was grapperig.

Só beskryf Michelle Raubenheimer haar geliefde 25-jarige seun, Ruben, wat laas naweek in die woonbuurt Garden Village in Somerset-Wes vermoor is.

“Hy was my oudste kind. Ek voel baie hartseer en stukkend.

“Almal het hom liefgehad, veral sy vriende se kinders,” sê die verpletterde ma.

Die kranige sportman is Sondag in die vroeë oggendure twee keer met ’n skerp voorwerp gesteek.

Hy het probeer weghardloop, maar het nie ver van die toneel af nie beswyk.

Volgens die polisie het die voorval in Rosestraat in Garden Village gebeur.

’n Woordewisseling tussen jong mense het moontlik tot die moord aanleiding gegee.

“Ek het by die toneel gekom. Ek kon sien dit lyk nie goed nie. Ek kon sien sy oë was al vaal.

“Ek het weggehardloop om ’n verpleegster te gaan haal om te help. Sy het uitgekom en probeer om hom te help, maar daar was alreeds nie ’n pols nie.

“Ek het daar by hom gestaan en vir hom belowe dat ek na sy kind, ’n driejarige seuntjie, gaan kyk. Vir my is dit so onwerklik. Hy was my alles,” sê Michelle.

Die gebroke ma sê haar ander kinders het altyd gesê sy maak meer van Ruben as wat sy van hulle maak, maar dit is omdat sy baie swaar gekry het met hom.

“Daar was tye dat ek en sy pa nie gewerk het nie, maar sy peetma en familie wat baie trots op hom was, het altyd ingetree en gehelp.

“Ek was baie trots op Ruben en hy het gesorg vir sy kind,” sê sy.

STUKKEND: Michelle se hart is gebreek; sy verlang na haar geliefde seun. Foto: Jonathan Lestrade

Michelle vertel haar seun was altyd die ligstraal vir hulle in sport en die huis.

Sy sê Ruben het vanaf tweejarige ouderdom begin gholf speel. Hulle het destyds op die Somerset-Wes-gholfbaan gebly.

“Sy liefde vir gholf het hom die kans gegee om die hele Suid-Afrika plat te reis en vir ons laat plekke beleef waar ons nooit gedink ons kon gaan nie,” sê sy.

Michelle sê hulle is hartseer oor dit wat gebeur het, veral in dié moeilike tyd, maar weet met God se genade sal hulle hierdeur kom.

Houthuisie

“Ek wil hê mense moet onthou: Dit gaan nie oor waar jy vandaan kom nie; dit gaan oor waarheen jy op pad is.

“Ruben het in die bos grootgeword. Ons het in ’n houthuise met ’n plastiekseil as ’n dak gebly en hy het daar grootgeword. Maar hy het ’n sportster geword en baie vir ons beteken en ons gewys jy kan iets word.”

  • Twee verdagtes het Dins­dag in Somerset-Wes se landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofdag op 9 Maart.
HARTSEER: Michelle Raubenheimer troos haar dogter Denaline. Foto: Jonathan Lestrade
TROTS: Michelle Raubenheimer sê sy en haar familie is baie trots op alles wat Ruben bereik het. Foto: Jonathan Lestrade

    Meer Stories

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters