Verlede maand
Familie ken lyk in hawe uit
BEVESTIGING: Natalie Coetzee se lyk is deur haar familie uitgeken.  ~ Foto Verskaf

DIE familie van ’n vrou wat vyf maande vermis was, kan uiteindelik closure kry nadat haar oorskot gevind is.

Natalie Coetzee se familie het haar lyk Dinsdag in die Soutrivier-lykshuis gaan uitken.

Hul grootste vrees is bewaarheid toe dit wel haar lyk was wat al byna ’n maand in dié lykshuis lê.

Die owerhede was op soek na haar familie nadat die lyk van ’n vrou op 19 Julie by die Kalkbaai-hawe naby die Brass Bell-restaurant uitgespoel het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NRSI) is in kennis gestel.

Volgens die NSRI se Craig Lambinon het twee free divers op Coetzee se oorskot afgekom en dit na die kuslyn gebring.

Lambinon vertel: “By die reddingspan se aankoms op die toneel is die lyk aangetref van ’n ongeïdentifiseerde vrou wat vermoedelik in haar 30’s of 40’s was. Twee plaaslike duikers van Bergvliet en Simonstad het haar lyk na die kuslyn gebring.

“Die polisie het ’n ondersoek gedoen en dit blyk dat plaaslike vissermanne die vrou die Saterdagaand op die Kalkbaai-hawe gesien het.

“Niemand het gesê hulle het haar by die water sien ingaan nie.”

Vrae

Volgens Lambinon is die lyk in die sorg van die polisie en die Wes-Kaapse patologiese dienste oorgedra.

Hy sê indien die familie enige vrae het, kan hulle met die NSRI kontak maak.

Volgens Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder, is ’n dossier aangelê om die sterfte te ondersoek. Majikela sê ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die doodsoorsaak te bepaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters