4 dae gelede
Event eer werkers op frontline
engel: Ragmat Valentine, die organiseerder, skuur hier skouers met AO Nico Beukes. FOTO’S VERSKAF  ~ 

RAGMAT Valentine van die Strand het Sondag die harte van frontline-werkers gesteel toe sy hulle met ’n medalje en ’n lekkergoed-pakkie vereer het.

Die geselligheid het in Negende Straat, in die buurt Rusthof plaasgevind. Meer as 100 mense het die koue trotseer om dit by te woon.

Dis nie die eerste keer dat so ’n geselligheid in die Strand gehou word nie.

Die Strand is nes ander dorpe in Suid-Afrika swaar deur die Covid-19-pandemie getref.

Baie mense wat Covid-19 oorleef het, het aan Son gesê dis net die genade van God wat hulle deurgedra het.

ONDERSTEUNING: Oud en jonk was daar om die frontline-werkers te vereer.

Begrawe

Die Hartley-gesin het in Augustus vyf familielede begrawe wat aan die siekte gesterf het.

Drie van hulle, Ruth, Hester en Dorothy, asook Dorothy se man, John Webner, is saam begrawe. Hul ander swaer Pietie Eksteen is ’n week daarna begrawe.

Behalwe die Hartleys is daar ook die twee Karaan-broers wat kort ná mekaar aan die siekte gesterf het.

Valentine en haar man, Roderick, het Covid-19 saam oorleef, maar haar geliefde vriendin Ingrid de Bruyn, wat saam met hulle Covid gekry het, het gesterf.

Valentine sê Suid-Afrika moet dankbaar wees vir die mense wat voor staan om die siekte te beveg.

EREGASTE: Lede van die verkeerspolisie woon ook die geselligheid by.

Op Sondag se geleentheid is verpleegsters, cops, ambulanspersoneel en lede van die verkeersafdeling vereer vir die werk wat hulle doen om Covid-19-pasiënte in dié tyd van nood by te staan.

Die sprekers en sangers wat daar opgetree het, het ook klem daarop gelê hoe belangrik dit vir mense is om tog die entstof te kry.

Valentine het die mense bedank wat haar bygestaan het met donasies, asook dié wat daar opgetree het en wat die geleentheid so suksesvol gemaak het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters