4 dae gelede
Etenstyd by kerslig
kerskrag: Willie van Wyk moet snags sukkel om lig te kry. Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

KOEBAAI met verniet krag!

Ná 13 jaar wat krag verniet aan die gemeenskap van Meerlust verskaf is, word hulle nou in die duister gelaat.

Terwyl die res van die gemeenskappe oor load shedding kerm, ervaar dié inwoners permanente load shedding.

Dis nou al ’n week en die krag is steeds af sedert die munisipaliteit verlede Donderdag die krag switch vir hulle afgeskakel het.

Gemeenskapsleiers veg steeds vir antwoorde.

Inwoners is gefrustreerd en weet nie meer waar hulle hulp vandaan gaan kom nie.

Volgens inwoners kry hulle 13 jaar verniet krag waarvoor die departement van openbare werke betaal.

Verlede week is hulle krag skielik afgesit sonder enige rede of kennisgewing.

sonder lust? Die inwoners van Meerlust is in die duister gelaat.

Sophie September (59), ’n inwoner, sê: “Ons is nou mooi moeg van die stront!”

Volgens September het hulle 12 jaar gelede kragbokse gekry wat nou nog nie werk nie. As hulle die bokse lankal reggemaak het sodat hulle koopkrag kon gebruik, sou die probleem nie nou bestaan het nie.

’n Ander inwoner, Felicity Mouton (46), sê: “Dis nie lekker om so te werk te gaan nie. Ons moet in die koue water was.Dit sal beter wees as die munisipaliteit direk verantwoordelik is vir water en krag sodat ons kan betaal daarvoor.”

Die inwoners voel hulle kon ten minste kennis gegee het dat die krag afgesit gaan word sodat hulle vooraf ander reëlings kon tref.

Inwoners moes hulle peperduur kos weggooi omdat dit sleg geword het. Dis ’n groot verlies oor sommige van hulle al vir Krismis begin aankoop het.

Een van die bejaarde inwoners, Willie van Wyk (83), sê hy en sy gesin moet saans by kerslig eet. Hulle het geen warm water nie en moet vuur maak om water te kook.

klaers: Felicity Mouton (links) en Sophie September (regs) spreek hulle misnoeë oor die situasie uit.

Van Wyk noem dat hy die afgelope dae niks meer as eiers en polonie by die huis geëet het nie.

Diabeet

“Ek voel sleg oor die hele gedoente. Dis die eerste keer dat ons krag so lank af is,” sê hy.

Van Wyk moes ook al sy kos weggooi omdat dit sleg geraak het. Boonop is hy ’n diabeet en sukkel met ’n maagprobleem.

Nog ’n bejaarde inwoner, Lena Galant (86), sê dit voel of sy weer soos in die ou dae met kerslig moet lewe.

Riana Geldenhuys van die Drakenstein-munisipaliteit het só op navrae gereageer: “Die Drakenstein-munisipaliteit was genoodsaak om die kragtoevoer na Meerlust ’n week gelede af te skakel omdat die nasionale departement van openbare werke (Meerlust se eienaar wat krag aan die inwoners verskaf) se kragrekening met meer as R200 000 agterstallig is.

“Die munisipaliteit het vóór die afskakeling ’n kennisgewing in dié verband aan die departement van openbare werke uitgereik. Die kragtoevoer sal aangeskakel word sodra die departement dié agterstallige rekening vereffen het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters