Verlede maand
Eksvrou is vol lof vir advokaat
SAD: Natrisha Jantjies sê sy hou haar kinders in dié tyd van social media af om hulle te beskerm teen die lelike goed wat van hulle pa gesê word.  ~ Melinda Stuurman

HY WAS nie net ’n advokaat nie, hy was ’n liefdevolle pa en ’n mensemens met ’n groot hart.

Só vertel adv. Vernon Jantjies se eerste vrou, Natrisha Jantjies, oor haar eksman en die pa van haar kinders.

Die criminal lawyer is Sondagaand by sy linnewinkel in Lentegeur doodgeskiet.

Droom

Luidens berigte is hy etlike kere in die gesig geskiet.

Natrisha sê die linne­winkel was Vernon se stokperdjie.

“Hy was baie lief vir daai winkel. Dit was altyd sy droom om so ’n winkel te hê,” vertel sy.

Natrisha en Vernon is in 2014 ná 24 jaar van getroude lewe geskei.

“Ons albei is van Port Elizabeth, maar ons het mekaar in Kaapstad by die Universiteit van Wes-Kaapland ontmoet.”

Hulle het vier kinders gehad. Een kind is in 2002 in ’n motorongeluk dood.

DESTYDS: Vernon Jantjies was tot in 2014 met Natrisha (née Stuurman) getroud.

Natrisha vertel sy en Vernon het mekaar nog verlede week by hulle 15-jarige dogter se skoolplegtigheid gesien en gesels.

“Sondagaand het ek net aan die slaap geraak, toe bel een van my oudleerders my met die nuus.”

Ná Natrisha het Vernon weer getrou. Hy en sy huidige vrou, Charlene, en hulle twee kinders het in Gordonsbaai gewoon.

Natrisha sê sy en Vernon was nie op slegte voet nie.

“Hy was my kinders se pa en hy was ’n liefdevolle pa. Ses kinders is nou ’n pa ontneem wat betrokke was.”

Sy sê dit breek haar hart wanneer sy die “stertjies” hoor of lees wat nou by die voorval gelas word.

“Ons het nie nodig om sulke goed te sien nie. Dis lelik en onsensitief.

“Vernon was goed in wat hy gedoen het en hy het dit met passie gedoen.

“Hy het die mense se belange op die hart gedra.

“Hy het nie verdien om só dood te gaan nie. Niemand verdien dit nie.”

Natrisha sê in al hulle jare saam het Vernon nooit gesê hy vrees vir sy lewe nie.

“Ek kan nie dink dat enige een hom leed sou wou aandoen nie.”

  • Son kon Charlene teen druktyd nog nie vir kommentaar bereik nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters