Verlede maand
‘Ekstras’ skok
Maria nathan.  ~ Bohemia Jumatt

’N FAMILIE kon glad nie hulle feestyd geniet toe hulle matriarg skielik gesterf het nie.

Volgens die familie van Maria Nathan (89) van Scottsdene het sy die afgelope 20 jaar getrou haar begrafnisboekie betaal.

Maar die familie beweer toe sy onlangs sterf, het haar begrafnisondernemer, Nathan­ Goliath, hulle ’n rat voor die oë gedraai.

Gewaarsku

Volgens Nathan se dogter, Maria Hartnick, was Goliath nog drie dae voor haar ma se dood by hulle huis om haar maandelikse paaiement te kollekteer.

Sy sê hulle het hom toe al gewaarsku hulle ma lyk nie te gesond nie.

Hartnick vertel toe haar ma die Sondag afsterf, kon hulle Goliath glad nie in die hande kry nie.

Sy sê toe hulle hom uiteindelik in die hande kry, was hy vol stories.

Hartnick vertel: “Hy het ons na Willy’s & Gallico Begrafnisondernemers verwys wat saam met hom werk.

“By Willy’s het hulle gereël dat my ma se lyk in De Kock Begrafnisondernemers se yskaste gehou word.

“Nathan het ons toe geneem om vir ’n gat vir my ma te gaan kyk, maar ons het nie gekry nie.

“Ons het toe na ’n familiegat gaan soek, want my ma se broer is ook twintig jaar gelede daar begrawe.

“Oor die gat al so oud was, het Nathan gesê dit sal as ’n nuwe gat geklassifiseer word en ons moet R700 daarvoor betaal.

“Nathan het toe gesê ons moet R350 betaal en hy sal die ander helfte betaal.”

Hartnick sê soos die tyd aangegaan het, het Goliath aan hulle kiste gewys en hulle het toe op ’n spesifieke kis besluit.

Maar sy beweer hy het nogal lank geneem om die totale prys van die begrafnis te gee.

Toe hy wel die bedrag twee dae voor die begrafnis gee, sê Hartnick het sy amper flou geraak.

Goliath wou na bewering nog ’n verdere R9 500 kontant vir die begrafnis hê.

Hartnick sê volgens Goliath­ het die koste van begrafnisse oor die jare erg gestyg en hulle moes daarom ekstra betaal.

Sy sê hulle besluit toe Willy’s & Gallico Begrafnisondernemers moet die begrafnis teen R11 800 kontant dek oor Goliath hulle wil verneuk.

Hartnick dreig om verdere stappe te doen as Goliath nie die geld terugbetaal wat hulle ma oor die 20 jaar betaal het nie.

Volgens haar het Goliath belowe om die geld aan hulle terug te betaal.

Goliath het aan Son gesê hy het bewyse dat hy niemand ingeloop het nie.

Volgens hom was die begrafnis geboek, maar die Nathan-familie was nie bereid om die ekstra koste te betaal nie.

Goliath sê: “Hulle het vir ’n normale begrafnis betaal en oor hulle ’n goeie begrafnis wou hê, moes hulle ekstra betaal.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters